Rubriek: Verbeeldingloos soos grondboontjiebotter en stroop toebroodjies
Hoe Kunsmatige Intelligensie aangewend word is die ware kuns.

Televisie advertensie in die 80’s en 90’s was meer as net advertensies.
Veral die sigaret- en drankadvertensies soos Peter Stuyvesant, Mainstay en Bacardi het ‘n leeftyd langs die Franse Riviera eerder as ‘n tabak- of drankproduk verkoop.
Seiljagte, sportvoertuie, helderblou waters en beeldskone, bruingebrande meisies in bikini’s was die groot trekpleisters van die epiese produksies.
Mens het grootoog met vuiste vol springmielies gesit en alles op die grootskerm met ons oë verslind. Tot vandag toe kan ek nie na Queen se treffer We Will Rock You luister sonder om aan die Sonkoning Sol Kerzner se Sun Cityadvertensie te dink nie.
Op televisie was daar die Bic-pen, LunchBar, Black Cat Peanut Butter, TV Bar, Cremora en Chomp-advertensies wat mens se kinderjare onvergeetlik gemaak het.
Die Sasol, GTX olie en later die Nandos-advertensies het die lysie klassieke advertensies laat aangroei. Goeie advertensies wat die kol tref is deesdae dun gesaai.
Weens die snelle pas waarteen Jan Alleman aanlyn en digitale inhoud verslind, is daar bloot nie meer tyd en plek vir epiese advertensies nie.
Kort en kragtig is die sleutelwoorde. Deesdae het smaakmakers aka “influencers” op TikTok, Instagram en YouTube meer trefkrag.
As die persoon met die meeste volgelinge chiasaadjies eet en dit afsluk met appelasyn, haas almal hulle na die naaste gesondheidswinkel.
Met die snelle ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI) lyk alle statiese advertensies aanlyn dieselfde. Die ChatGPT-skeppings is vinnig en effektief, maar dit is vinnig besig om eentonig, algemeen, sielloos en verbeeldingloos te word.
Ja so algemeen soos ‘n groendboontjiebotter en stroop toebroodjie. Die kuns van ‘n ‘‘ontwerpersgourmettoebroodjie’’ gaan verlore.
Mense verloor hulle kreatiwiteit en word luier en luier by die dag. Gen Z word geïdentifiseer as die eerste generasie in die moderne geskiedenis wat laer presteer op gestandaardiseerde, kognitiewe en IK-toetse as vorige generasies.
Navorsing dui op ’n omkeer van die Flynn-effek, met afnames in aandag, geheue, geletterdheid en syfervaardigheid. As gevolg van KI is almal deesdae grafiese kunstenaar, musikante en fotograwe.
Daar is sekerlik niks daarmee fout nie, maar die mens se element ontreek.
Dit is juis die imperfeksies wat dinge in die lewe perfek en uniek maak. Is ons besig om ons identiteit te verloor? Is dit waarom soveel jongmense onseker is oor dinge soos geslag?
Wie weet…? Al wat ek weet is dat KI spaarsamig en verantwoordelik aangewend met word