Historiese roman uit die pen van Vaal skywer
Spore na vryheid is 'n historiese roman uit die pen van Elsabè Potgieter.
HENLEY ON KLIP – Elsabè Potgieter lees graag en was nog altyd lief vir skryf. Sy het op laerskool al letterkunde pryse gewen. Gedurende haar jare in die polisie het sy kortverhale geskryf.
“Fiksie skryf was nog altyd my ‘n tipe ontsnapping. ‘n Manier om van stres ontslae te raak,” verduidelik sy. Sy glo sy het haar skryftalent by haar oumagrootjie Stoffelien geërf.

“Ouma Stoffelien het altyd briewe vir haar familie geskryf in die Oos-Kaap. Ek het juis haar briewe in my historiese roman, Spore na Vryheid ingesluit,” vertel Elsabè.
Spore na Vryheid is haar eerste volwaardige roman. Dit is gebaseer op haar oupagrootjie Josef en sy vrou, Stoffelien, se lewe saam. Josef was ‘n Kaapse Rebel tydens die Anglo-Boereoorlog.
Na die Vrede van Vereeniging in 1902 kon hy nie langer onder Britse heerskappy uithou nie, toe trou hy en trek met hulle vier weke oue baba, Transvaal toe.
Hy het altyd vir sy kinders en kleinkinders staaltjies van sy oorlogservaringe vertel, sodat hulle kan weet hoe wreed oorlog is, en ook dat alles wat verkeerd gaan in die land, volgens hom, die Engelse se skuld is.
Die staaltjies is op band opgeneem en Elsabé het die staaltjies getranskribeer. Dit was in 1999. Sy het egter eers in 2024 besluit die tyd is reg om die boek te skryf.
Eers was dit net Oupa Josef se oorlogstories en lewensloop, totdat sy besef het watse sterk vrou Ouma Stoffelien was, en daarom het haar briewe ook ‘n plek in die boek gevind.
Elsabé sê: “Oupa se oorlogstories maak dit duidelik dat oorlog nooit die antwoord is nie. Die oorlogdier is wreed.”
Sy beskryf die boek as ‘n roman, ‘n liefdesverhaal. Josef en Stoffelien se liefde vir mekaar, vir hulle kinders, vir hulle taal, kultuur en volk. Maar eerstens ‘n liefdesverhaal, Stoffelien wat vir Josef sê “waar jy gaan sal ek gaan.”
Sy verlaat haar welvarende familie en goeie opvoeding om haar man te volg in die onbekende, om hom regop te hou wanneer sy las swaar word. Dis ook ‘n verhaal van hoop en drome wat waar word.
Spore na Vryheid kan by www. malherbepublishers.co.za/product/spore-navryheid/ bestel word. Die boek en e-boek is ook op Amazon beskikbaar.
