Huldeblyke het die afgelope week ingestroom vir die oud-Vaaldriehoekse sportfotograaf, Duif du Toit (57), wat verlede Donderdag na 'n kort siekbed aan orgaanversaking gesterf het. Duif het in Vanderbijlpark grootgeword en aan die Laerskool Historia en Hoërskool Driehoek skoolgegaan voordat hy aan die destydse Potchefstroomse Universiteit gaan studeer het. Hy het aanvanklik vir The Star en Touchline Media gewerk voordat hy in 2006 by Gallo Images aangesluit het. Hy was 'n bekroonde krieketfotograaf en is ook gereeld langs rugbyvelde regoor die land aangetref. Met sy stil, nederige geaardheid was hy besonder geliefd onder mede-fotograwe en die sportgemeenskap, en is as een van Suid-Afrika se top sportfotograwe beskou. Hy word oorleef deur sy vrou Adele en seun De Villiers du Toit.
Links: Duif du Toit was bekend daarvoor dat hy sport-aksie uitmuntend met sy kamera kon vasvang. Dit was egter veral ook die ongewone menslike foto’s langs die sportveld wat hy op sy unieke manier kon verewig.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!