NewsNews

VDBP-man neem eie lewe

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van die 32-jarige man, Freek Schurmann, wat op 16 Maart sy eie lewe geneem het, is steeds in skok oor sy skielike afsterwe.

“My broer was ‘n ekstrovert en hy het ‘n baie klein hartjie gehad. Daar was geen tekens dat hy depressief was of so drastiese stap sou neem nie. Ons vermoed hy was baie alleen en dit het dalk vir hom net te veel geword,” sê sy suster Rika.

Vaalweekblad het egter berig dat Freek die gewilde selfdood speletjie, Blue Whale, gespeel het, maar volgens Rika was die speletjie nie op sy selfoon gevind nie en dus is daar geen bewyse dat dié speletjie die einde van sy lewe beteken het nie.

Sy sê verder Freek het sy ma vroeër die aand gevra om vir hom ‘n broodjie te maak wat sy vir hom na die woonstel gevat het. Freek het in ‘n woonstel op sy suster se perseel gewoon.

Rika het omstreeks 21:00 ‘n boodskap van Freek ontvang waarin staan: “Sien in die hemel.”

“Ek het die boodskap vreemd gevind en my ma gevra om te gaan kyk of alles reg is. My ma is toe na sy woonstel waar sy gesien sy kamerlig is steeds aan. Sy het eers gedink hy is dalk in die badkamer, maar toe sy omkyk het sy gesien hy het homself met ‘n elektriese koord gehang.”

Rika is dadelik na sy woonstel om hom te probeer help, maar dit was reeds te laat.

Freek se begrafnisdiens het op 23 Maart plaasgevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button