NewsNewsPhoto Galleries

50 jaar ná busramp lê die hartseer nog steeds vlak

MEYERTON. - ’n Volle vyftig jaar het verloop sedert die grusame busramp by die Highbury-oorgang naby Henley-on- Klip.

Leerlinge van die Hoërskool Dr. Malan lê vars blomme by die gedenksteen. Foto: Verskaf

23 skoolkinders het op 28 Januarie 1970 tragies gesterf toe die skoolbus op ’n spoorwegkruising gaan staan het en deur ‘n aankomende trein getref is. Tog lê die wonde vir diegene wat die busramp oorleef het en die wat die oorledenes geken het, na meer as vyf dekades steeds baie vlak. Dit was voorwaar ’n dag wat Meyertonners nie sal vergeet nie.
Op die middag van 28 Januarie 1970 het ‘n skoolbus met skoolkinders van Hoërskool Dr. Malan, Laerskool Dr. Verwoerd en Meyerton Primary School op die spoorlyn tussen Vereeniging en Johannesburg, net buite Henley-on-Klip, gaan staan.
‘n Trein het die bus getref waartydens 23 kinders dood en ‘n verdere 16 beseer is. Pieter van Zyl, ’n oudleerling van Hoërskool Dr. Malan, vertel dat hy, sy ouer suster en broer op die betrokke dag in die bus gesit het toe dit deur die trein getref is.
“Ons was van die kinders wat in die bus bly sit het. Ons het nie uitgespring nie,” vertel hy. Van Zyl vertel dat die gebeure jaarliks aan die einde van Januarie by hom en sy suster spook en dat hulle dié tyd van die jaar gewoonlik baie emosioneel raak. Leerling van Hoërskool Dr. Malan onthou ook jaarliks die tragiese gebeure van 28 Januarie 1970.
Jaarliks word ’n kranslegging by ’n gedenksteen op die skoolterrein gehou vir die 14 leerlinge van die skool wat in die busramp gesterf het.
Sondag was daar ook ’n gedenkdiens en kranslegging by ’n gedenknaald in Daleside ter ere van die 23 skoolkinders wat in die voorval gesterf het.
Teenwoordig was die moeder, broer en suster van Johan le Roux, een van die leerlinge wat in die ongeluk dood is. Johan sal altyd as held onthou word nadat hy ten minste twee kinders se lewens gered het deur hulle by die bus se venster uit te stoot voordat die trein die bus getref het.
’n Straat in Meyerton is ook na hom vernoem. ’n Gedig oor Johan le Roux, wat deur die plaaslike digter Dawie Louw geskryf is, is tydens die geleentheid voorgelees. Louw was ’n vriend van Le Roux. Ds. Mariaan Beukes het ook uit die Woord voorgelees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: [email protected] She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: [email protected]
Back to top button