‘n Spaanse meesterstuk wat almal geniet
Wat kry jy as een van die beste klassieke kitaarspelers in die wêreld se paaie kruis met Suid-Afrika se Spaansedans koningin? 'n Vyfster vertoning.
SASOLBURG – Carli Olivier en James Grace het dit weer gedoen. Hul produksie, Café Flamenco voer jou mee na die polsende ritmes van Spanjé.
Van die Compañía Sophia-dansers se uitrustings tot by klassieke kitaarspeler James Grace se solovertolkings van Spaanse meesterstukke en die dansers se vingervaardighede met kastanjette het betoor.

Die eerste vertoning van hierdie skitterende produksie is Saterdag by die Umuzi teater in Secunda gehou. James Grace sê na die vertoning wou die mense by hom weet of kan die dansers Engels praat? Hulle het gedink die agt dansers is van Spanjé!
Hulle skoene, kastanjette en tjalies mag dalk van Spanjé afkomstig wees, maar dis Vrystaatbloed wat in hul are klop.
Sondagmiddag het mense van oor die Vaaldriehoek sitplek ingeneem in die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg. Dit was asem ophou betowering van begin tot einde. Van die dramatiese en hartseer Lacrimosa tot by die vrolike handklap-voetstamp ritme van La Bicicleta op die einde.
Aangrypend was James se briljante vertolking van Asturias deur Isaac Albeniz. Die musiek beeld ʼn aankomende storm uit. Hoe die storm naderkom, oor ʼn dorpie uitsak en dan weer stil raak. Die dansers se ritmiese kastanjette en voetstamp, saam met perfekte beligting het die gevoel van ʼn storm perfek nageboots.
Café Flamence is ʼn moet sien. Vir die wat die vertoning in Sasolburg misgeloop het, hulle het 7 Junie twee vertonings by die Lesedi teater in Johannesburg.
