Die skool het dit vir die eerste keer in 1986 vermag en toe weer in 1988. Daarna eers weer in 1999, waarna daar ‘n lang droogtetyd gevolg het.
Maar nou kan die skool weer feesvier. Die skool vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar. Die tema was “Valies Airwaves” en die dirigente was lugwaardinne en vlieëniers: Dewald Botha en Chantelee Aberg (hoofdirigente); Justin Algra; Nicola Skamagas; Sadé Briedenhann; Rinus Ferreira; Nqobi Khumalo; Annika Jansen van Vuuren; Karleine van Wyk en El-Ré Labuschagne.
“Die belangrikste was dat die leerlinge ‘n goeie indruk op die pawiljoen moes skep. Maar op die dag het ek besef dat ons kan wen en ons het alles ingesit,” vertel me. Luné van Heerden wat aan die hoof gestaan het van die skool se ondersteuning-arsenaal.
Dit was vanjaar die eerste keer haar taak. Sy is reeds die afgelope nege jaar ‘n onderwyseres by die skool en was voorheen as hekkiesafrigter betrokke.
Die byeenkoms is Saterdag op die DP de Villiers-stadion in Sasoburg gehou, en het soos al die die vorige jare opwinding en prestasies uit die boonste rakke opgedis. ‘n Belangrike deel van dié dag is die gees waarin daar meegeding word – en Vaalweekblad wil al die deelnemende skole gelukwens vir die wyse waarop hulle mekaar die stryd aangesê het. Gesonde kompetisie kweek beslis waardige kampioene!