Vaaldriehoek, maak gereed vir minus-temperature!
Van more af gaan ons behoorlik bibber
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die eerste sterk kouefront van 2020 het sy opwagting vandag in die Kaapse Skiereiland gemaak. Hiermee kondig vanjaar se winter homself nou amptelik aan.
‘n Sterk wind van tot 50 kilometer per uur waai op plekke. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel deinings van tot ses meter hoog langs die kus, en rampbestuurspanne is op gereedheidsgrondslag vir moontlike oorstromings in laagliggende gebiede, veral op die Kaapse Vlakte. Swaar reën sal na verwagting op verskeie plekke in die Wes-Kaap uitsak, terwyl sneeu in die Boland en Oos-Kaap voorspel word.
Die Facebook-groep Gauteng Weather berig dat die massiewe koue front, wat deur EUMETSAT gefotografeer is, oor ‘n baie groot gebied strek – van net onder Suid-Afrika en dele van die Kaap, tot in die suid-weste van die Atlantiese oseaan. Die kouefront gaan plek-plek met stormsterkte wind gepaard en na verwagting gaan die koue Gauteng binnekort tref.
Inwoners van die Vaaldriehoek kan vandag reeds getuig van ‘n ysige windjie en na verwagting gaan dit vannag nog baie kouer word.
Vaaldriehoekers kan hulle solank begin staal vir ‘n minimum-temperatuur more (26 Mei) van -2 grade en ‘n maksimum van 15 in Vanderbijlpark, Midvaal en Vereeniging. Die voorspelde minimumtemperatuur vir Sasolburg is ook -2 en ‘n maksimum van 14.
Woensdag se temperature gaan selfs koeler wees: na verwagting net so 13 grade maksimum in die Vaaldriehoekgebied.
Teen Donderdag gaan dit vroegoggend steeds baie koud wees, maar volgens weervoorspellers kan ons dan darem ‘n dagtemperatuur van 17 grade in die Gautengkant van die Vaaldriehoek en 16 grade in Sasolburg verwag.
As jy en jou geliefde al vir mekaar begin grendelgrom weens die inperking, maak so gou as moontlik vrede sodat jy vannag ‘n warm rug het om teen lepel te lê!
