Gewapende man in Vanderbijl-woonbuurt gemerk
VANDERBIJLPARK. - Bekommerde inwoners van Gaus Court in CW2 wil ander inwoners waarsku nadat hulle gister 'n swaargewapende man in siviele klere in hulle straat sien stap het. Dit het vir die inwoners gelyk of die man met 'n R4 geweer en 'n 9mm pistool gewapen was.
Volgens die inwoners wat verkies om annoniem te bly, het hulle onraad vermoed en die man dop gehou. Dit het vir hulle gelyk of hy gemik het om by die bure aan die oorkant van die straat se eiendom in te gaan, maar die kinders wat buite gespeel het, het toe glo die buurman geroep.
“Die gewapende man het daarna deur die veld weggestap. Sulke voorvalle maak mens baie benoud. Mens kan mos nie sommer net so ‘n gewapende man tromp-op loop en vra wat hy soek nie,” sê die bekommerde inwoner.
Die man het daarna so vinnig uit sig verdwyn dat die inwoners nie gedink het dit sou help om die polisie in kennis te stel nie.
Plaaslike inwoners word gewaarsku om paraat te wees by hul huise en te sorg dat hul hekke en deure ten alle tye gesluit is. Mense word ook aangeraai om verdagte persone by die polisie aan te meld of ten minste hul buurtwagte daaroor in kennis te stel.
