Katjies op pad na nuwe tuiste
VEREENIGING. – Twee wilde babkatjies wat vroeër vandeesmaand van agter ’n muur by die River Square Shopping Centre gered is, is vroeër die week ontwurm, ingeënt, mikroskyfies laat insit en sal binnekort na hul nuwe tuiste gestuur word. Sharne Smit, bemarkingsbestuurder by die River Square Shopping Centre, sê die katjies, albei mannetjies, is agter ’n …
VEREENIGING. – Twee wilde babkatjies wat vroeër vandeesmaand van agter ’n muur by die River Square Shopping Centre gered is, is vroeër die week ontwurm, ingeënt, mikroskyfies laat insit en sal binnekort na hul nuwe tuiste gestuur word.
Sharne Smit, bemarkingsbestuurder by die River Square Shopping Centre, sê die katjies, albei mannetjies, is agter ’n muur in die Contempo klerewinkel ontdek nadat iemand hulle hoor miaauw het.
“Ons vermoed hulle het by die winkelsentrum se transformators deurgekom en op ‘n manier agter die muur beland,” verduidelik sy.
Die muur is met behulp van ‘n tienpondhamer en saag afgebreek om die katjies te bevry.
“Gelukkig was dit ‘n gipsmuur (“drywall”) so dit was darem nie te moeilik om die muur af te breek nie,” vertel sy.
Volgens Yvette Wilde, ’n plaaslike diereliefhebber wat gehelp het om tydelike huisvesting vir die katjies te kry, is hulle vermoedelik vyf weke oud.
“Dit is duidelik dat die mammakat baie goed na die twee katjies omgesien het. Toe hulle gevind is was hulle lekker vet en het dit het gelyk of hulle genoeg kos gekry het,” vertel sy.
Die katjies bly vir eers by die Baxter’s Bark & Breakfast, ‘n hotel vir honde en katte, tot hulle na hulle nuwe eienaar uitgeplaas word.
Dr. Christelle Alberts van die Kliprivier Dierehospitaal het vroeër die week die katjies ondersoek en hulle ontwurm, ingeënt, mikroskyfies laat insit. Hulle is gelukkig heel gesond.





