Pensioenaris amper met slap riem gevang
VANDERBIJLPARK. – ‘n 76-jarige pensionaris en haar seun is steeds erg geskok nadat hulle gister amper die slagoffers van ‘n eiendomslenter geword het. Normha Myburgh en haar seun Johan (53) van 74 Koos de La Rey straat in SE1 wil die publiek waarsku teen ‘n man en vrou wat hulself as voornemende huiskopers voordoen en …
VANDERBIJLPARK. – ‘n 76-jarige pensionaris en haar seun is steeds erg geskok nadat hulle gister amper die slagoffers van ‘n eiendomslenter geword het.
Normha Myburgh en haar seun Johan (53) van 74 Koos de La Rey straat in SE1 wil die publiek waarsku teen ‘n man en vrou wat hulself as voornemende huiskopers voordoen en dan items soos skootrekenaars en selfone steel.
“Ons huis is nie eers in die mark nie. Maar die man het volgehou dat hy my R900 000 vir die huis sal aanbied. Die gek wat ek is, het ek hulle toegelaat om binne te kom om te kyk na die huis. Die vrou het gevra of sy die huisgenote-stapel wat in die gang op ‘n kas gestaan het kan kry. Ek het ingestem en aangebied om vir haar ‘n sak te gee. Sy het toe eerder haar handsak in die kar gaan haal. Haar man het intussen my en my seun se aandag in die sitkamer afgetrek, terwyl sy weer by die huis ingeglip het. Iets het vir my gese ek moet gaan kyk waar die vrou is,” vertel mev. Myburgh.
Sy het die vroulike verdagte betrap waar sy uit haar seun Johan se kamer gekom het. “Ek het haar gevra wat maak sy en wat is in haar handsak en toe sê sy niks. Ek het toe daarin gekyk en my seun se nuwe laptop daarin gevind. Ek het toe vir my seun gegil.”
Die man het gevlug en in die motor gespring terwyl Myburgh-hulle die vrou in die gang probeer vaskeer het. Sy het losgekom en die twee verdagtes het met hul swart BMW X5 weggejaag.
“Sy het vreeslik terugbaklei en my op die rug gebyt terwyl ek haar vasgedruk het. Die skilderye en bank in die gang het alles skeef gehang na die gestoei. Selfs die muur se verf het plek-plek gewaai,” vertel Johan.
Die polisie was glo vining op die toneel, maar volgens mev. Myburgh het hulle daarteen besluit om ‘n saak te open. “Niks is op die ou einde gesteel nie, maar ons wil graag die publiek waarsku. Ons het gisteraand nie ‘n oog toe gemaak nie en ons wens dit vir niemand toe nie,” se sy.
Volgens die polisie is die voertuig se regsitrasienommer (XZH258GP) vervals.



