News

Dun lyn tussen boelie en slagoffer

AfriForum se Teenboelieveldtog beklemtoon die belangrikheid van waardes soos verantwoordelikheid, empatie, respek en selfbeheersing.

VEREENIGING – Volgens navorsing onder 460 hoërskoolleerders in die Tshwane-metro-distrik is bevind dat 42,39% as beide boelies én slagoffers geklassifiseer kan word.

Dit is juis hierdie kompleksiteit van boeliegedrag wat AfriForum se Teenboeliespan, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand onlangs tydens ’n besoek aan Laerskool Risiville in Vereeniging en Laerskool Voorwaarts in Meyerton bespreek het.

Mariette van de Werken (Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Wesrand en Vaaldriehoek), die Matteus-gelukbringer, Mari-Louise Erasmus (AfriForum se Onderwyskoördineerder vir die noordstreek en aanbieder van die organisasie se teenboelie-praatjies) en Nadia Coetzee (Solidariteit se netwerkorganiseerder vir die Vaaldriehoek), tydens die besoek aan LS Risiville.

“Navorsing bied ook ’n blik op wat agter dié oorvleueling kan lê. Navorsers het in ’n 2024-opvolgstudie bevind dat sommige leerders wat self geboelie word, hul frustrasie en woede op ander leerders rig.

“Sommige deelnemers het beskryf hoe hulle iemand wat swakker as hulle is, boelie, terwyl ander aggressie as ’n manier gebruik het om hulself te beskerm of verlore aansien onder hul portuurgroep te probeer herwin.

“Dié bevindinge wys hoe viktimisering en boeliegedrag in sommige gevalle deel van dieselfde kringloop kan word,” verduidelik die Teenboeliespan.

Dié bevindings sluit aan by die benadering wat AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand tydens hul onlangse skoolbesoeke gevolg het: beskerm die slagoffer, begrens die gedrag, maar moenie die kind agter die gedrag afskryf nie.

Hulp vir die boelie

Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se Teenboelieprogram, benadruk dat hulp aan die boelie nie beteken dat die gedrag aanvaar of verskoon word nie.

“Ons moet twee dinge gelyktydig kan doen: Ons moet die kind wat seerkry beskerm én die kind wat ander seermaak help om te verstaan waarom sy gedrag verkeerd is en hoe om dit te verander.

“Dissipline moet duidelike grense stel, maar dit moet ook daarop gerig wees om al die betrokke partye te ondersteun,” verduidelik sy.

Kinderervarings

Nog ’n plaaslike studie wat 769 hoërskoolleerders in Noordwes betrek het, het bevind dat negatiewe kinderervarings en portuurinvloed belangrike voorspellers van boeliegedrag is.

Om die dryfvere van boeliegedrag te verstaan, beteken egter nie dat die gedrag verskoon word nie. ’n Kind se omstandighede regverdig nie dat ander verneder, uitgesluit of seergemaak word nie.

Die gedrag moet ferm hanteer word, terwyl die kind geleer word om verantwoordelikheid vir sy of haar optrede te aanvaar.

Belangrike boodskap

Die boodskap aan leerders en onderwysers is eenvoudig: Boeliegedrag moet gestop word, maar die kind agter die gedrag moenie afgeskryf word nie.

Wanneer leerders empatie toon, skole duidelike grense stel én ondersteuning bied, kry die kind wat ander seermaak die geleentheid om verantwoordelikheid te aanvaar, uit sy of haar optrede te leer en nuwe, positiewe maniere te ontwikkel om met ander om te gaan.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole, stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button