Vonnis kom nege jaar ná rooftog en skiet van sakeman
VEREENIGING. – Drie mans wat in 2011 by ’n rooftog in Drie Riviere betrokke was waartydens die Vaaldriehoekse sakeman, dr. Gary Immelman, talle kere geskiet is, kry ná nege jaar uiteindelik hul dag in die hof. Ná ’n lang uitgerekte hofsaak en talle uitstelle het Landdros Chris Kruger Woensdag met vonnisoplegging begin. Die veroordeeldes Lucky …
VEREENIGING. – Drie mans wat in 2011 by ’n rooftog in Drie Riviere betrokke was waartydens die Vaaldriehoekse sakeman, dr. Gary Immelman, talle kere geskiet is, kry ná nege jaar uiteindelik hul dag in die hof.
Ná ’n lang uitgerekte hofsaak en talle uitstelle het Landdros Chris Kruger Woensdag met vonnisoplegging begin.
Die veroordeeldes Lucky Mabaso (40), Titus Mongemontsho (50) en Nzamo Sizwe Nsimande (42) was deel van die sindikaat wat op Maandag 25 Julie 2011 die rooftog by Immelman en sy vrou Lorna se huis in Drie Riviere uitgevoer het.
Hulle is skuldig bevind aan talle aanklagte waaronder ontvoering, roof met verswarende omstandighede, huisbraak, roof en poging tot moord. Een van die beskuldigdes is ook skuldig bevind op ’n aanklag van roekelose en nalatige bestuur wat spruit uit die vlugtog ná die rooftog.
Ná ’n volle dag in die hof is daar teen die einde van die dag besluit om vir eers te verdaag. Daar sal Vrydag ooreengekom word op ’n volgende datum waartydens die uitspraak sal voortgaan.
Die rowers, waarvan sommige in polisie uniforms geklee was, het op die oggend van Maandag 25 Julie 2011 toegang tot Immelman se huis in Brandmullerrylaan verkry. Immelman was reeds by sy kantoor in die industriële gebied maar het ’n oproep van sy vrou, Lorna, ontvang dat daar indringers in die erf is.
Immelman het onraad vermoed en sy vrou aangesê om haarself onmiddellik toe te sluit. Hy het werknemers gevra om die polisie te bel en is toe self na sy huis.
Immelman, gewapen met ’n 9mm handwapen, is geskiet toe hy uit sy voertuig uitgeklim het. Die rowers het kort daarna op die vlug geslaan met gesteelde goed.
Lees meer in ons volgende uitgawe van Vaalweekblad, wat van 3 Junie weer beskikbaar sal wees.





