Sakemanne oortree onwetend die wet – word ure lank aangehou
"Ons is uiteindelik op waarskuwing vrygelaat en moet op 5 Augustus in verband met die saak in Sasolburg se landdroshof verskyn"
Eerste publikasie: Vaalweekblad, 3 Junie 2020
Retha Fitchat
SASOLBURG. – Vaaldriehoekse sakelui het sedert die instelling van die Covid-19 inperking twee maande gelede, voor talle frustrasies en uitdagings te staan gekom. Twee sulke sakemanne wat dit aan eie lyf gevoel het, is Quintin en Vic van Vetkoek Chefs in Sasolburg. Hulle het versoek dat hul vanne nie genoem word nie.
Quintin sê hulle is nie net geldelik onderstebo geruk omdat hulle hul kitskosrestaurant se deure met die begin van die inperking op 27 Maart moes sluit nie. In ‘n poging om probleme met hul kommunikasie-infrastruktuur en selfone te laat regstel, is hulle boonop by ‘n padblokkade weens ‘n oortreding van die rampbestuurswet in hegtenis geneem.
Quintin vertel: “Weens die lockdown was ons kontantvloei in sy kanon in. Ons het nie genoeg geld in die bank gehad sodat ons MTN-debietorder kon afgaan nie. Toe ons uiteindelik genoeg geld gehad het om MTN te betaal, is ons op 29 April na MTN se tak in Sasolburg, maar dit was gesluit. Daar was ‘n boodskap opgeplak dat MTN in Vaal Mall, Vanderbijlpark, oop was. Met dié ry ons toe Vanderbijlpark toe om ons rekening daar te gaan betaal.
“By die padblokkade oor die Vaalrivier tussen Sasolburg en Vanderbijlpark het die beamptes gewys dat ons maar kon deurry Gautengkant toe, sonder dat hulle ‘n permit wou sien. By Vaal Mall aangekom, vind ons toe dat daardie MTN-tak ook gesluit was en ry toe maar weer terug Sasolburg toe.
“Op die Stonehavenpad staan ons toe weer in ‘n padblokkade, onbewus daarvan dat ons iets verkeerd gedoen het of rede tot kommer het. Die beampte vra ons permit, en ons verduidelik dat ons nog wag vir ons permit om uitgereik te word, maar dat ons sakemense is wat ons selfone weer aan die werk moet kry sodat ons kosaflewerings kon begin doen. Die beampte was glad nie beïndruk of oortuig nie en het gesê ‘n foon is nie ‘essential’ nie en dat ons die regulasie oortree het deur sonder ‘n permit van een provinsie na ‘n ander te ry.
“Ons word toe net daar gearresteer vir die onregmatige “crossing of a border”. So staan ons toe ure lank in ‘n weermagtent sonder dat ontsmettingsmiddels vir ons aangebied word. Sommige mense staan sonder maskers – die polisie ingesluit! Twee dames van in hul 60’s was ook onder die gearresteerdes. Hulle was so gaaf om aan te bied dat ons hul foon kon gebruik om dringende oproepe te maak.
“Vanaf die weermagtent is ons toe onder polisiebegeleiding na Sasolburg se polisiestasie geneem. Almal wat in hegtenis was, se vingerafdrukke is geneem. Almal gebruik dieselfde blokkie ink oor-en-oor sonder dat ons ‘n ontsmettingmiddel aangebied word. Daarna moet almal hul hande was en aan dieselfde bottel seep vat, en steeds is daar geen ontsmettingsmiddel in sig nie. Op my vraag aan die polisielede of hulle dink dat dit darem skoon en veilig is, trek hulle net hul skouers op en sê hulle weet nie.
“Ons is uiteindelik op waarskuwing vrygelaat en moet op 5 Augustus in verband met die saak in Sasolburg se landdroshof verskyn. Ons kon darem die aand daarin slaag om ons selfoonrekening te betaal, maar het dae later steeds gewag dat ons fone weer moes begin werk.
“In die opvolgende dae moes ons boonop sukkel om bestanddele in die hande te kry. Hier was byvoorbeeld geen grootmaat-olie in Sasolburg beskikbaar nie. Gelukkig is ons nou weer op dreef en sien daarna uit om weer volstoom te werk. Al wat ons nou nodig het, is die publiek se ondersteuning,” sê Quintin.
Hy voeg by dat hulle nie deur die plaaslike polisie in hegtenis geneem is nie maar deur lede van Welkom se honde-eenheid. “Die Sasolburgse polisie was deurgaans baie gaaf en van die plaaslike lede het agterna selfs kom jammer sê omdat hulle nie vir ons kon intree nie.”
