VF Plus vra LUR om in te gryp by onwettige grondbesetting in Vaal
Sowat 400 onwettige strukture is op munisipale grond in die Vaaldriehoek opgerig waar plakkers in haglike omstandighede woon
Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, versoek om dringend in te gryp by ʼn onwettige grondbesettingaksie in die Emfuleni-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark & Vereeniging).
Volgens die Vryheidsfront Plus is sowat 400 onwettige strukture op munisipale grond opgerig waar plakkers in haglike omstandighede woon – sonder enige munisipale dienste.
Mnr. Kobus Hofmann, VF Plus-lid van die Provinsiale Wetgewer in Gauteng, sê die party is ook besorg oor ʼn ander grondbesetting-geval waar tientalle plakkers hulle op sewe kleinhoewes in De Deur, Midvaal, gevestig het. Grondeienaars is bekommerd dat die besetters kan aangroei en onwettige grondbesetting na aangrensende privaatgrond kan uitbrei.
“Die VF Plus het die gebied besoek en die aangeleentheid met die Midvaal-burgemeesterslid van ontwikkeling en beplanning, M. Motsamal, bespreek. Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het ook hulp aan die eienaars aangebied,” sê Hoffman.
Hy sê voorts die VF Plus is van mening dat owerhede en howe meer toeganklik moet wees vir grondeienaars om onwettige grondbesetters van hul eiendom te verwyder aangesien baie eienaars nie die nodige fondse het om duur regskostes aan te gaan nie.
Uploaded by R. Fitchat on 20 June 2020
