Dit is presies wat Oupa Charel Richard Verster se drie dogters, ses kleinkinders en ses agterkleinkinders, insluitend hul gades, gedoen het. Dit is tradisie dat die familie elke jaar rondom Oupa se verjaarsdag op 9 Junie bymekaar kom, maar die jaar is hul planne deur die inperkingsreëls aan bande gelê. Melani de Swardt van Vaalpark sê haar tannie Ilse by wie Oupa nou in Pretoria tuisgaan, het toe die blink idee gekry om ‘n Zoom-partytjie te hou.
Op Sondag, 7 Junie om 10:45 het die geskarrel begin vir almal om hul sit voor die rekenaars te kry en seker te maak al die tegniese probleme is uitgeskakel. Oupa se dogters Tersia, Erna en Ilse, sy skoonseuns Peter, Hermann en Van Gend, kleinkinders Melani, Tania, Emile, Michelle, Tamara, en aangetroude kleinkinders Francois, Etienne, Elouise en Kruger saam met sy agterkleinkinders Wiard, Karli, Kiera en Kiaan was gou gereed om die eregas te verras. “Dit was so lekker, want ons familie het verlede jaar twee nuwe toevoegings (Kiera en Kiaan) gekry en om die twee in lewende lywe te sien. was so kosbaar,” het Melani gesê.

Die oomblik toe Oupa Charel op die skerm te sien was, het almal saamgesing en hom luidkeels toegejuig. Hy was baie verbaas om al sy mense so saam te sien en met hul almal te kon praat.
Oupa was ook baie in sy skik dat hy op 92 so tegnologies gevorderd is, maar sê dat hy ‘n behoorlike opskop wil hê sodra die grendeltyd verby is. Melani sê Oupa het elkeen van hulle by die naam gegroet en geselsies aangeknoop en dit was asof hul almal weer saam om die tafel gesit en gesels het. Aan Oupa se kant van die rekenaars was daar ‘n lekker verjaardagkoek en tee, maar die res van die partytjiegangers moes maar hul eie koffie en peuselhappies voorsien.
Ten spyte van die lus vir die verjaardagkoek, het die saam wees op die internet opgemaak vir die weg wees van mekaar. Oupa Charel-hulle het jare lank in Sasolburg gewoon toe hy by Sasol gewerk het. In 1999 het hy en sy vrou Mara, in ‘n versorgingstehuis in Harbeespoortdam gaan woon voordat hul in 2011 by hul jongste dogter in Pretoria gaan woon het. Dieselfde jaar is Ouma Mara oorlede. In sy jong dae was hy ‘n kranige rugbyspeler. Hy het in 1953 vir Sasol Rugbyklub se eerstespan uitgedraf. Dit was ook in die tyd wat hy die bynaam “Daisy” gekry het. Waarom hy dit gekry het, wil hy nie sê nie, al brand die hele familie om te weet.
Oupa Charel is nog jonk van gees. Hy was altyd baie lief daarvoor om skaak te speel. Deesdae is legkaartbou sy passie en hy sit ure om en bou die allermooiste legkaarte terwyl hy na radiostories luister. Sy kinders en kleinkinders het vir hom vir sy 90ste verjaardag ‘n legkaart van die familie gemaak. Tot vandag toe sê hy dit was een van die lekkerste legkaarte wat hy nog gebou het.

Melani beskryf haar Oupa as ‘n diep gelowige man wat vir haar so mooi kan bid. Hy is lief vir lag en poetse bak en is nog liewer vir die lewe. Sy onthou: “Kleintyd wou nie een van die kleinkinders langs Oupa aan tafel sit nie, want hy het altyd sy vinger in jou mond gedruk nes jy ‘n hap kos wou vat, of hy skuif jou bord as jy nie kyk nie, tot groot vermaak van die res van die tafel. Oupa se kerkpakke se baadjies het altyd pienk pilletjies in gehad, diaken pilletjies, sodat die kerk minder lank voel en kinders soeter is…”
Sy sê: “Oupa het ons geleer wat dit is om hard te werk, maar ook om pret te hê. Ek is so trots om deel van sy ryke stamboom te wees.
“Oupa het ons geleer dat goeie maniere nooit te versmaai is nie, maar dat mens altyd tyd het vir ‘n potjie skaak of ‘n rondte krieket. Hy is ‘n man met blousel-blou oë en breë skouers, maar ‘n klein hartjie wat ons geleer het dat ons elke dag dankbaar moet wees vir alles wat ons Hemelse Vader vir ons gee. Dit was altyd vir my so mooi as hy met ouma gepraat het. Hy het altyd vir haar ounooi gesê,” onthou sy.
