Tragiese ongeluk net buite Vanderbijlpark
Die presiese oorsaak en omstandighede van die botsing is tans nog onduidelik en word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek.
VANDERBIJLPARK – Saterdagaand het op ‘n hartseer noot geëindig toe ‘n noodlottige ongeluk net buite die dorp plaasgevind het.
Die CERT Vaal-spanne is ontbied na ‘n ernstige botsing op die R57 by die N1-afrit.
Met hul aankoms op die toneel het hulle gevind dat ‘n ligte motorvoertuig en ‘n vragmotor in ‘n botsing betrokke was.
Volgens CERT het een persoon ongelukkig noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Volgens onbevestigde inligting uit die gemeenskap was een van die voertuie betrokke ‘n Ford Mustang.
(CERT staan vir Community Emergency Response Team – ‘n openbare organisasie wat lewensreddende nood- en reddingsdienste lewer).
“Ons innige meegevoel gaan uit na die familie en geliefdes van die oorledene gedurende hierdie moeilike tyd,” het CERT: Vaal gesê.
Hulle het ook vir ER24 EMS (Edms) Bpk., die Johannesburgse Metropolitaanse Polisiediens (JMPD), die SAPD en alle ander dienste wat op die toneel gehelp het, bedank vir hul professionaliteit, hulp en samewerking.

CERT se padveiligheidswenk
Wanneer jy langs vragmotors ry, wees te alle tye bewus van hul groot blindekolle en die langer stopafstande.
Handhaaf ‘n veilige volgafstand, vermy dit om stadig langs vragmotors te ry waar die bestuurder jou dalk nie kan sien nie, en gaan slegs verby wanneer dit veilig en wettig is om dit te doen.

