Local newsNewsNewsSport

‘n Goeie ruiter en perd is goud werd

VANDERBIJLPARK. – Daar is iets aan ‘n perd se uiterlike wat goed is vir die mens se innerlike. Dit is iets waaraan die 59-jarige Annas van Graan beslis glo. Met 49 jaar se ervaring as ruiter en Protea-kleure wat in sy kas hang, kan hy met gesag oor pensteek (tentpegging) praat. “Na my rugbyloopbaan het …

VANDERBIJLPARK. – Daar is iets aan ‘n perd se uiterlike wat goed is vir die mens se innerlike. Dit is iets waaraan die 59-jarige Annas van Graan beslis glo.
Met 49 jaar se ervaring as ruiter en Protea-kleure wat in sy kas hang, kan hy met gesag oor pensteek (tentpegging) praat.
“Na my rugbyloopbaan het ek iets gesoek om myself mee besig te hou. Omdat ek al vir jare perd gery het en ‘n perd aangehou het, het dit (pensteek) in 1993 eers as ‘n tydverdryf op Saterdagmiddae begin. Nadat die gogga gebyt het, het ek meer begin oefen om meer mededingend te word,” vertel hy.
In 2009 is sy harde werk beloon toe hy sy Protea-kleure verwerf het. Dit het die bal aan die rol gesit.
Die volgende jaar het hy aan die Wêreldspele in Indië deelgeneem. Hy het ook in 2012 en 2016 as meester in Pakistan aan Drienasies toetse deelgeneem. Hy is ook deel van ‘n uitgelese groep Protea-sportlui wat eersdaags in die Vaal Legendes Sportmuseum in Sasolburg ingehuldig gaan word.
Hoewel die oorsprong van pensteek of tentpegging soos dit wêreldwyd bekend is, nie duidelik is nie, stem die meeste kenners saam dat dit in Asië begin het.
Een ding is seker, pensteek is een van die perdry dissiplines wat die meeste vernuf en vaardigheid verg om te bemeester.
“Om ’n perd teen 45 km/h met een hand te beheer terwyl jy ’n lans of ‘n swaard in jou ander hand hanteer om ’n pen, ring of lemoen raak te steek, vereis tegniek, balans en hand-oog-koördinasie,” vertel Van Graan. Maar die verhouding tussen ruiter en perd moet nie onderskat word nie. “Die belangrikste komponent van die sport is ‘n goeie perd/ruiter-verhouding. Dit is iets wat tyd neem om te ontwikkel. Daar is nie ’n spesifieke perderas wat beter as ‘n ander is nie. Ruiters gebruik hoofsaaklik perde wat ’n kalm temperament het. Baie kruisrasperde waaruit die volgende rasse gebruik word, is Arabier, Boerperd, Friesperd, Appaloosa en Amerikanse Quarter Horse.”
Soos deur van Graan verduidelik, bestaan ‘n Pensteek-toernooi uit 10 items. Vyf span-items en vyf individuele items. Punte word vir die “dra” van ’n pen (ses punte) toegeken en net raaksteek (vier punte) en ’n merk op die pen verdien twee punte. Die beoordelaars ken ook stylpunte aan die ruiter toe vir die korrekte uitvoering van die betrokke item se voorgeskrewe styl.
“Van die individuele items is tegnies en kan vir sekere ruiters moeilik wees. Die span-items is as ’n reël moeiliker omdat die perde in “gelid” moet hardloop terwyl die ruiters die betrokke item se styl gesinkroniseerd moet voltooi,” vertel hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button