Joernaliste is nuuskierige wesens. Na ’n bietjie rondsoek het ek hom opgespoor. Die man wat 50 jaar gelede die Vaalweekblad afgelewer het, is vandag ’n rekenmeester in Den Haag, Nederland.
Hy vertel hy was 13 en in standerd 7 (vandag se graad 9) aan die Hoërskool Vanderbijlpark toe hy moeg geraak het om sy ma vir ‘n voorskot op sy sakgeld te vra. Hy en sy vriend Gerrit, het gereeld Saterdae by die 20th Century bioskoop gaan fliek en dit het maar swaar gegaan as sy sakgeld klaar was. Hans sê Gerrit was “’n cool ou wat pers bell bottoms gedra het met wit kouse en tekkies.” Hy wou ook so cool wees!

“Ek het êrens gelees dat die Vaalweekblad die moontlikheid gee om ’n bietjie sakgeld te verdien.” Hy het sy moed bymekaar geskraap en met die tannie by die koerant se kantore gaan gesels. Die gesprek sou sy lewe verander, maar dit het hy nog nie op daardie oomblik geweet nie…
“Op daai oggend in 1967 weet ek nog van niks. Ek wil net ’n bietjie ekstra geld verdien om nie elke keer vir my ma ’n voorskot te vra vir my sakgeld nie. Ek moet mos my ego reg op sy plek hou as ek saam met Gerrit gaan fliek op ‘n Saterdagmiddag. Ek moet mos ook ’n paar bellbottoms koop met wit sokkies en tekkies, en my ‘grandpa-shirts’ was ook al ’n bietjie min.”
Die tannie van die koerant wie se naam hy nou nie meer kan onthou nie, moes eers vir hom verduidelik hoe die hele koerantafleweringsbesigheid werk. Die Vaalweekblad het daardie jare 5 sent gekos. Hy kon elke week 40 koerante kry om af te lewer, maar daarvoor moes hy 2 ½ sent per koerant betaal. Dus R1 inbetaal per week en dan as hy alles verkoop, maak hy R1 wins. Dit het hom goed laat kopkrap, want ’n nuwe paar tekkies was R2,50 en ’n fliek was 10 sent en waar moes hy nou die R1 kry vir die eerste week se koerante?
Die tannie het gelukkig verstaan van 13-jariges wat ’n besigheid moet begin en toe verder verduidelik dat hy die eerste week se R1 die volgende week kan betaal. Hy moet net onthou om nie in die eerste week al sy geld uit te gee nie, want hy gaan dan die volgende week die hele R2 nodig hê om die koerante te betaal.

Hans vertel: “Ek het begin verstaan, maar ek het ook begin worry dat ek die eerste week nie sal kan spaar vir my tekkies nie!” Sy het hom ook geleer dat hy vir al sy ma se vriende en al die bure in die straat en in sy omliggende omgewing moet gaan vra of hulle weekliks die koerant wil hê.
Almal wat ja sê se name moes hy dan by die kantoor gaan ingee en dan die mense vra om vooruit te betaal. Sommer vir ’n paar weke vooruit, dan hoef hy nou nie elke week vir almal se 5 sente te vra nie.
Daardie middag het hy sommer dadeik gaan sit en somme maak. Hy het al gesien hoe kan hy sommer maklik genoeg maak vir tekkies, ’n bellbottom en vir hom en Gerrit betaal vir die fliek. Hy moes net 10 mense kry om vyf weke vooruit te betaal, en so vyf mense om vir 10 weke vooruit te betaal en nog so 25 vir drie weke. En toe onthou hy dat hy nog elke week die koeranttannie R1 moet betaal en as mense vooruit betaal, dan kry hy vir weke aaneen geen inkomste nie.
Hans reken dis net daar waar hy besluit het om eendag ’n rekenmeester te word! Hy het begin bou aan sy netwerk van moontlike kliënte en algou het hy koerante afgelewer in Chamber-, Bentley-, Bernini- en Houstonstraat en Westinghouse-boulevard.
Sy sakgeld probleme was nie noodwendig opgelos nie, maar dit het beter gegaan, al was daar weke wat hy weer die tannie moes vra of hy nie maar weer die deposito die volgende week kan betaal nie.

“Soms was my broeksak vol met geld en soms was ek platsak,” vertel hy.
So het hy vir ’n hele paar jaar elke Donderdagmiddag CE2 platgery met sy fiets en koerante afgelwer.
“In die tyd het ek wyse lewenslesse geleer. Ek het nuwe vriende gemaak en geleer hoe mense is.
Wanneer ek kaalvoet deur hul tuine geloop het om die geld te gaan haal, het ek gehoor hoe luister die tannies na radiostories voordat hulle kosmaak en wag vir die ooms om van die werk af te kom.
Die kinders het gewoonlik buite gespeel. Die lewe was vir my dan mooi en baie gewoon. Dit het my ook geleer om die lewe te vat soos hy is.”
Bowenal het Hans se Vaalweekblad afleweringsjare hom geleer om nooit ’n boek te oordeel aan sy boekomslag nie en om goed te beplan as dit by geldsake kom.
“Ek het jare later baie lesse van my Vaalweekblad-tyd saamgevat in my lewe van grootword. Ek het ’n rekenmeester geword. Dankie Vaalweekblad.”
