Vereeniging DBV benodig vrywilligers
Deur jou tyd, energie en omgee te deel, kan jy help om hoop te bring en diere in hul sorg se lewens te verbeter.
VEREENIGING – Vrywilligers is die hartklop van die Vereeniging & Vanderbijlpark DBV.
Die plaaslike DBV sal dit opreg waardeer as mense tyd kan afstaan en hulle bystaan.
Of jy nou net ’n uur per week of ’n paar uur per maand beskikbaar het, jou betrokkenheid sal ‘n verskil maak.
“Ons is altyd op soek na mense wat kan help om met die honde te gaan stap, of liefde en aandag aan die katte in ons sorg te gee,” is die DBV se versoek.
Hulle sal dit ook opreg waardeer as daar inwoners is wat kan help met die algemene instandhouding van die hokke en perseel.
Nog ‘n afdeling waar hulle dringend hulp benodig, is met fondsinsamelings en gemeenskapsprojekte.
“Om ‘n vrywilliger te wees kan net so verrykend vir jou as vir die diere wees. Jou betrokkenheid kan ‘n dier se lewe beter maak terwyl hulle op aanneming wag.”
Indien daar inwoners is wat as vrywilligers by die DBV betrokke wil raak, kan die Vereeniging & Vanderbijlpark DBV by 016 422 1505 gekontak word.
Saam maak ons ’n verskil – een goeie daad op ’n slag.
