Vaalweekblad kon vanoggend nog nie by die presidensiële kantoor bevestiging kry nie, maar volgens Sunday Times se Redaksiespan het die presidensiële woordvoerder, Khusela Diko, aan hulle bevestig dat President Cyril Ramaphosa wel vanaand die volk gaan toespreek.
Die verwagte slegte nuus is dat hy moontlik weer ‘n strenger inperking gaan aankondig nadat die aantal Covid-19 gevalle in Suid-Afrika die afgelope 2 weke aansienlik toegeneem het.
Kenners meen daar gaan na verwagting weer ‘n aandklokreël ingestel word sodat mense na ‘n sekere tyd saans tot ‘n sekere tyd soggens, nie op straat mag wees nie.
Alkoholverkope gaan dalk weer strenger beheer word en op minder dae of ure verkoop mag word. Rokers het blykbaar ook nog steeds niks om na uit te sien nie. Die rookverbod gaan glo nie nou al opgehef word nie. Na verwagting gaan daar ook strenger teen taxi-vervoerdienste opgetree word met die vasstelling van ‘n sekere aantal mense wat gelyktydig vervoer mag word.
Hierdie is egter net bespiegelinge. Kom ons wag en sien. Vaalweekblad sal lesers op hoogte hou indien die president wel vanaand gaan praat.
