Vaal-kuierplek verbied motorfietsklubkleure ná Pretoria-skietery
Skietery kan moontlik 'n kettingreaksie veroorsaak.
VANDERBIJLPARK – ’n Kuierplek in die Vaaldriehoek het motorfietsklubkleure en -kentekens tydelik op sy perseel verbied. Die besluit volg in dieselfde week as ’n noodlottige skietery by ’n kroeg in Pretoria waarin ’n lid van die Macs-motorfietsklub doodgeskiet is.
Die skietery het Saterdagaand 10 Oktober in Waterkloof Ridge plaasgevind. Baden Watson (55) is dood en ’n ander lid van die Macs is gewond.
Brian Wesley Smith (45), wat volgens berigte aan die Crusaders-motorfietsklub verbonde is, is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Sy borgaansoek is tot 20 Oktober uitgestel.
Die Vaal-kuierplek se openbare kennisgewing beskryf die verbod as ’n tydelike voorsorgmaatreël om die veiligheid en gerief van kliente te beskerm en ’n gesinsvriendelike omgewing te handhaaf.
Volgens die kennisgewing is die maatreël nie teen enige spesifieke motorfietsklub of organisasie gerig nie. Lede van motorfietsklubs bly welkom, mits hulle nie hul klubkleure of -kentekens dra nie.