NewsNews

Netjiese tuine by landdroshof

SASOLBURG. – Wanneer daar ‘n vreemde nommer op ‘n joernalis se foonskermpie flits, handel die oproep die meeste van die tyd oor slegte nuus of klagtes.

Moedelose inwoners wat kla oor ‘n gebrek aan dienslewering, krag wat af is, water wat mors of riool wat in die straat afloop… Vergewe tog as ons nie noodwendig dan antwoord op eerste gelui nie.

Groot was my verrassing toe ek onlangs my foon antwoord en oom Gerrie Homann van Sasolburg stel homself voor. Hy skakel net om vir my te sê dat alhoewel baie plekke in Sasolburg agteruitgegaan het, hy ‘n pluimpie vir die landdroshof in die dorp wil gee. Die tuine daar is baie netjies. Oom Gerrie sê hy is al vir jare afgetree, maar was op sy dag by die dorp se gesondheidsdienste betrokke.

Die tuin is skoon en netjies en daar is geen papier in sig nie.

Die eerste bestuurder onder wie hy destyds gewerk het, het hom geleer ‘n mens ry nie verby papiere of ‘n gemors nie. As iets nie reg is nie, dan doen jy dit self.

“Hy het my sommer so ‘n dwarsklap agter die kop gegee as ek nie papiere opgetel het nie,” lag die oom te lekker. “Dit is waarom ek tot vandag toe nog papiere sal optel. By die landdroshof in Sasolburg se tuin het ek vandag net vyf papiertjies kon optel. Julle moet kom kyk.” Ongelukkig kon hy nie self die foto neem nie, sy foon is nog nie so byderwets nie. Annalize van den Heever het toe namens Vaalweekblad gaan ondersoek instel. Sy kon nie die tuiner of sy naam opspoor nie, maar het wel bevestig dat die tuin rondom die parkeerarea en buite om baie netjies is. Die beddings is mooi afgewerk en die struike verskaf ‘n groenigheid. Nie ‘n papier in sig nie. Welgedaan!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button