Local newsNationalNews

Rioolgevaar: Kleutertjie weggestuur uit vrees vir besmetting

Inwoners van Bessemerstraat se bloeddruk styg saam met die rioolwater

 

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van Bessemerstraat se bloeddruk styg by die dag saam met die stinkende rioolwater wat al hoër in hul erwe opstoot.
Dit is tans veral die Booyense van nommer 17 se erf wat lelik deurloop.
Volgens me. Janke Booyens, die ma van ‘n jong kleutertjie, duur dié onaangename situasie al ‘n geruime tyd, maar dit is besig om nou so erg te word dat dit ‘n groot gesondheidsgevaar vir hul gesin en ander inwoners van die gebied inhou. Dit het nou die punt bereik waar sy haar dogtertjie van 3 jaar by haar ma moet laat woon omdat die gevaar van siektebesmetting in hul eie erf so groot is.
“Ons bly langs ‘n veldjie en die munisipale drein is reg langs ons erf. Baie mense kom stort hul vullis in die veldjie en omdat die drein oop is, beland daar groot stukke plastiek, koerante en ander rommel in die drein sodat dit verstop. Wanneer dit gebeur, wat deesdae feitlik aanhoudend is, stoot die hele buurt se rioolgemors in ons erf op. Ons hele agterplaas lê letterlik toe onder ‘n diep laag stinkende rioolwater, poef, sanitêre doekies, alles deurmekaar. Hierdie is ‘n groot gesondheidsgevaar. Ek het al agt honde weens die situasie verloor. Ek moes nou my 3-jarige dogtertjie na ma toe stuur sodat sy daar gaan bly omdat dit nie meer leefbaar in ons erf is nie,” sê Janke.
Dit is nou die vierde keer vanjaar dat die drein verstop is. Dit is ook nie meer nét die Booyense se erf wat deurloop nie. Riool stroom ook deur ander erwe, veral by die drie langs die Booyense se huis, sowel as by die erf wat aan hul agterplaas grens.
“Elke keer pleit ons by die munisipaliteit om die drein in die veldjie te kom skoonmaak maar ons kry geen hulp nie. Ons het dit nou weer aangemeld maar die munisipaliteit sê net jammer, hulle het nie nou bakkies beskikbaar om die werk te kan doen nie,” sê Janke.
Haar pa het tot dusver self ingespring en die drein skoongemaak, maar hy het daarna al so siek geword dat hy mediese behandeling moes kry en Janke wil nie hê dat hy sy lewe verder in gevaar stel om die munisipaliteit se werk te doen nie.
“Ons is so moedeloos. Ons is op lockdown maar ons word siek in ons eie erwe. Ons kan regtig nie meer so lewe nie. Help ons asseblief,” is die beroep wat Bessemerstraat se inwoners die afgelope dae op Vaalweekblad en die munisipaliteit gedoen het.
* Vaalweekblad het die probleem weer namens die inwoners by die Emfuleni Plaaslike Raad aangemeld.

Sommige inwoners van Bessemerstraat se erwe is tans toe onder ‘n hele paar sentimeter rioolvuil omdat ‘n munisipale drein in die gebied verstop is en dit dan in aangrensende erwe inspoel. Sommige inwoners moet behoorlik deur die riool plas om by hul voertuie in hul motorhuise te kan uitkom. Só lyk dit tans in een van die erwe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button