Local newsNationalNews

Connor verloor sy werk maar maak unieke nuwe plan om geld te maak

Connor het vir hom 'n fiets met 'n sleepwaentjie ontwerp en dit self uit skrootmetaal gebou, gesweis en geverf.

 

VANDERBIJLPARK. – Die Covid-inperking en ‘n gepaardgaande aflegging is genoeg om enige jong man in sy spore te stuit – maar nie vir Connor Michau, ‘n 20-jarige inwoner van die dorp nie.
Connor, wie se hande vir niks verkeerd staan nie, het vroeër vanjaar sy werk by ‘n plaaslike duikklopper verloor en het dadelik vol moed na ‘n nuwe pos begin soek. Om ‘n nuwe werk te midde van die inperking te kry, was egter nie so maklik nie. ‘n Idee om sy eie klein onderneming te begin, het stilweg in sy kop begin vorm aanneem. Hy het sy idee met sy aanstaande, Nadia Fivaz, bespreek en saam-saam het hulle begin om alles gereed te kry vir hul eie klein besigheid: Connor’s Mobile Car Wash.
Connor het vir hom ‘n fiets met ‘n sleepwaentjie ontwerp en dit self uit skrootmetaal gebou, gesweis en geverf. Soggens, van Maandag tot Saterdag, vat hy vroegdag die pad op sy fiets vanaf sy blyplek naby Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark en ry na enigiemand in die area wat hul voertuie, bakkies, woonwaens of motorfietse gewas wil hê. Hy vertrek nie voordat alles skitterblink is nie. Sy leuse op sy visitekaartjie sê dit alles: “I’ll come to you. Less time, more shine”.
Danksy ‘n foto en inligting wat verlede week deur sakeman Fanie de Jongh oor Connor geplaas is, waarin hy Vanderbijlparkers aanmoedig om van Connor se dienste gebruik te maak, is dié unieke nuwe onderneming dadelik deur plaaslike Facebookers raakgesien en wyd gedeel.
Connor het verlede Dinsdag sy eerste kliënt gehad en van daar af het sy kliëntebasis reeds so uitgebrei dat hy nou baie dae volbespreek is. Hy werk elke dag van 09:00 tot 17:00 en neem sy eie hoëgehalte skoonmaakmiddels saam, maar kliënte wat ‘n voorkeur vir hul eie het, kan dit ook beskikbaar stel.
Sy dienste kos R40 vir karre, R60 vir SUV’s en bakkies, R80 vir ‘n minibus, R120 vir ‘n woonwa en R30 vir motorfietse.
Dié jong entrepreneur het reeds van sy skooldae af begin geld maak deur ekstra werkies te doen.
“Ek is iemand wat nie kan stilsit en niks doen nie. Ek moet aan die gang bly. Ek hou daarvan om met my hande te werk en is ook nie bang vir werk nie. Op die oomblik is ek ook besig om my matriek na ure te doen sodat ek verder kan gaan studeer. Ek wil baie graag verder gaan leer. My droom is om eendag diepsee-sweiswerk te gaan doen,” sê Connor.
Te oordeel aan dié energieke jong man se geesdrif vir sy werk en vir die lewe, gaan hy sukses behaal in alles wat hy aanpak, maak nie saak of dit diep onder in die see of op die hoogste bergspits is nie!
* Vanderbijlparkse inwoners wat hom graag wil ondersteun, kan hom skakel (of verkieslik WhatsApp) by 063 772 8500.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button