Die Angel Wings personeel en vriende het ingespring. Die kleine prinses het haar prinseskoek gekry. ‘n Pop en ‘n stootkarretjie. ‘n Rooi tutu om te dra vir haar partytjie. Die personeel het vir haar gesing. Haar gesiggie het gestraal.
Dit was die woorde by die foto’s op facebook wat die joernalis laat huil het. “She had a great birthday! Never heard a child say thank you so many times. She is just a sparkle in our house.”
‘n Kleine meisie met ‘n hart wat oorloop van dankbaarheid en liefde. Angel Wings is haar tydelike tuiste. Hier ervaar sy liefde en wat dit is om in ‘n warm bed te slaap, kos te hê en baie mammas te hê wat daar is vir haar.

Foto: Facebook
Haar storie kon soveel anders verloop het, was dit nie vir Annemie Schoeman wat destyds ‘n droom gehad het om babas en peuters te red nie…
‘n Paar jaar gelede het Annemie ‘n hartsbegeerte met twee van haar vriendinne, Rykie Pretorius en Stephnie Crause, gedeel – om ‘n veilige hawe vir babas en mishandelde kleuters te skep. Saam het hulle planne beraam, bly glo en aangehou waar ander dalk lankal sou opgegee het. Al hul harde werk en gebede het vrugte afgewerp. Angel Wings het op 7 Julie vanjaar hul tweede verjaarsdag gevier.
Annemie sê hulle het die afgelope twee jaar ongeveer 30 babas gehelp. Van die babas is by hospitale agtergelaat. Ander word voor deure gevind of deur maatskaplike werkers vir hul gebring. Daar is natuurlik ook die Angel Wings muur waar vroue hul babas in ‘n houer kan plaas en wegloop. Hier word nie vrae gevra nie. Niemand word vervolg nie. Die oomblik as ‘n baba in die muur geplaas word, gaan daar alarms in die huis af. Die baba word dadelik gehaal en versorg. Die maatskaplike werker word laat weet en die prosesse begin om die kleinding met sy of haar nuwe ouers te verenig. Alhoewel die voorval by die polisie aangemeld word, word die vroue, soms jong meisies, wat die babas in die houer los, nie vervolg nie.
Die belangrikste is dat die baba ‘n kans om te lewe gegun word en nie sommer net op ‘n ashoop in ‘n sak gelos word nie. Annemie sê hulle het agtergekom baie van die vroue is moedeloos en verward, hulle sien geen ander uitweg as om hul babas op te gee nie. “Soms kom hulle self ook na ons toe. Ons probeer ook die mammas help waar ons kan. Hulle moet weet hulle is nie alleen nie. Niemand hoef magteloos of hulpeloos te voel nie.
“Ons blameer nie. Ons luister.”

Angel Wings hoop om in die nabye toekoms nog ‘n veilige hawe oop te maak aan die Gauteng-kant van die Vaalrivier. Hulle het reeds ‘n kleinhoewe tot hul beskikking, maar benodig nog fondse om ‘n huis op te rig. Die grendelstaat en gepaardgaande inperkings het hierdie jaar hul groot fondsinsamelingsprojekte aan bande gelê. Terselftertyd het die nood groter geword en moes hul meer babas en peuters inneem. Hul webtuiste, www.angelwingshome.co.za, verskaf inligting oor hoe en waar mense betrokke kan raak by die organisasie. Op die oomblik is hul grootste behoefte dat mense sal help om die kinderoppassers se salarisse te betaal deur hul Adopt a Nanny projek. Indien jy kan help, besoek gerus hul webtuiste of facebookblad by @AngelWingsVaalpark vir die nodige kontakbesonderhede.
Angel Wings het ook ‘n opwindende projek vir skrywers en digters geloods. Hulle beplan om betyds vir Kersfees ‘n boek uit te bring met ‘n verskeidenheid van kortverhale en gedigte.
As jy graag ‘n storie of gedig vir moontlike opname in die bundel wil skryf, moet jy gou spring. Die sluitingsdatum is 15 Augustus. Inskrywings is gratis en die room van die oes sal vir die boek, Op Vlerke van Engele/On Angel Wings, gebruik word. Kontak Marlize by herman.marlize@gmail.com. vir navrae.
