Vanderbijlpark se balju sterf in haar slaap
Sy het tuis aangesterk na 'n operasie toe sy die Sondagoggend onverwags in haar slaap gesterf het.
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die onverwagse dood van die dorp se balju, mev. Annelie Lawson (55), het verlede naweek skokgolwe deur Vaaldriehoekse regskringe gestuur.
Volgens haar seun, Diederick, het mev. Lawson die Dinsdag voor haar dood ‘n operasie ondergaan om siste in haar lewer te verwyder. Sy is die Vrydag ontslaan en het tuis aangesterk toe sy onvewags die Sondagoggend in haar slaap gesterf het.
Wyle mev. Lawson was een van net ‘n handjievol vroulike balju’s in die land. In ‘n onderhoud met Vaalweekblad ‘n paar jaar gelede, het sy gesê haar loopbaan by die baljukantoor het “per ongeluk” begin. Sy was in 1983 pas klaar met skool en het net ‘n paar dae as kassier in Checkers gewerk toe Vanderbijlpark se destydse balju, mnr. Johan Vlok, haar raakgesien het. Hy het ‘n vakante pos in sy kantoor gehad en haar genooi vir ‘n onderhoud, wat toe sommer in haar etenstyd gevoer is. Sy het die volgende week vir hom begin werk en nooit weer teruggekyk nie.
Die eerste tien jaar het sy as die balju se ontvangsdame gewerk en later as tikster in die hooggeregshof-baljukantoor. “Ek is deur die beste leermeesters, wyle Johan Vlok en wyle Flip van Vuuren, opgelei en het die werk die afgelope drie dekades van alle kante af leer ken,” het sy destyds aan Vaalweekblad gesê.
In 2012 is sy deur die Minister van Justisie as volwaardige balju van die landdroshof sowel as van die hooggeregshof in Vanderbijlpark aangestel.
Saam met haar personeel was dit haar hooftaak om hofopdragte uit te voer. Dit het onder meer die bestelling van dagvaardings en batebeslaglegging behels.
“Ons werk is nie vir sissies nie. Dis ‘n hoëstres werk en ons is beslis nie die gewidste mense in die dorp nie. Ons werk met mense wat reeds in nood is en hulle neem ons baie kwalik as ons hul goedere weens wanbetaling moet wegneem. Iemand moet egter die werk doen en ons voer dit met soveel deernis as moontlik uit,” het sy in haar laaste onderhoud aan Vaalweekblad gesê.
‘n Bekende Vaaldriehoekse aanklaer, mev. Amanda Strydom, wat mev. Lawson goed geken het, sê sy was ‘n groot gees in die plaaslike regsgemeenskap.
“Sy het haar stempel behoorlik afgedruk en ons plaaslike regslui het vir hierdie ystervrou net groot lof en respek gehad. Sy was vir jare sinoniem met ons baljukantoor en elke prokureur of advokaat het haar vermoëns met respek bejeën. Ten spyte van die moeilike uitdagings verbonde aan haar pos, was sy altyd bekend vir haar lag en vriendelikheid. Sy gaan ‘n groot leemte laat en daar word met leedwese van haar afskeid geneem. Rus sag liewe Anna,” sê mev. Strydom.
Wyle mev. Lawson word oorleef deur haar man, Derick, en twee seuns. Haar naasbestaansdes het Vrydagoggend in ‘n private seremonie van haar afskeid geneem.