Yolande Faro, hoof van die metropolisie in Nelson Mandelabaai, het op die voorval gereageer nadat ’n video van Dewald Peens se inhegtenisneming en beweringe van aanranding deur lede van die metropolisie op sosiale media die ronde begin doen het, berig Netwerk24.
Volgens Faro is Peens Saterdag vir roekelose en nalatige bestuur aangekeer. Hy het versuim om aan ’n wettige opdrag gehoor te gee en het hom teëgesit toe metropolisiebeamptes hom in hegtenis wou neem.
Faro sê hy het geweier om sy samewerking vir die polisie te gee en om sy besonderhede te verskaf.
Yolande Faro, hoof van die metropolisie in Nelson Mandelabaai.
Die klag van crimen injuria is bygevoeg oor die beweerde gebruik van die k-woord, aldus Faro.
’n Ontstelde Peens het Maandag aan Netwerk24 gesê hy het met skok en teleurstelling van die metro se verklaring verneem.
Behalwe om te sê dat hy geensins die k-woord gebruik het, soos beweer word nie, wou hy hom nie verder uitlaat oor die voorval nie, want hy is van voorneme om Woensdag sy prokureur te gaan sien.
“Hierdie storie is heeltemal verdraai,” sê Peens.
Marcel Slabbert, ’n vriend van Peens wat die video op sy Facebook-blad geplaas het, beweer in sy inskrywing Peens is gewurg en lede van die metropolisie het sy klere geskeur.
Volgens Slabbert het Peens toe hy by die verkeerslig in Linton Grange stilhou nie sy sitplekgordel aangehad nie en hy het op sy selfoon gekyk hoe laat dit is.
Luidens die inskrywing wou een van die wetstoepassers weet waarom hy nie sy sitplekgordel aan het nie. Hy is toe aangesê om by die Engen-garage stil te hou.
Daar aangekom het ’n vroulike beampte na bewering vir Peens gesê dit is hoe hulle wit mense behandel. In die video hoor ’n mens Peens herhaaldelik sê “moet my nie wurg nie”.
Volgens Faro toon die video nie die voorval van die begin tot die einde nie.
“Deur roekeloos en nalatig te bestuur, het die persoon ander mense se lewe in gevaar gestel. Ons vra inwoners om die wet te gehoorsaam. Oortredings van die wet sal nie geduld word nie,” maan Faro.
“Indien mense gevang word wat iets verkeerds doen, versoek ons hul volle samewerking.”
Volgens die metro se verklaring is Peens ’n boete opgelê omdat hy op sy selfoon gepraat het terwyl hy bestuur het en omdat hy nie sy rybewys by hom gehad het nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
