Local newsNationalNews

Transvalia se IT-kundige sterf na lang siekbed

“Sommige dae is die verlange na Wimpie te groot, maar ek is nie opstandig nie want ek weet hy was gereed om te gaan. Hy het in vrede gesterf,” sê mnr. Joubert se ma.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – “Sommige dae is die verlange na Wimpie te groot, maar ek is nie opstandig nie want ek weet hy was gereed om te gaan. Hy het in vrede gesterf.”
So sê mev. Mickey Joubert, ma van die Transvalia-onderwyser, mnr. Wimpie Joubert (43), wat op 20 Julie na ‘n lang siekbed oorlede is. Mnr. Poena van Dyk, bemarker van die skool, het die doodstyding die volgende dag op die skool se Facebook-blad aan leerlinge en personeel oorgedra.

Wimpie is op 31 Mei 1977 gebore en het aan die Laerskool Vaalrivier en Hoërskool Vanderbijlpark skoolgegaan voordat hy by ‘n rekenaar-opleidingsentrum betrokke geraak en homself in ‘n kort tyd as ‘n talentvolle IT-kundige onderskei het. Hy het sy meestersgraad in IT in Potchefstroom verwerf en ook ‘n gevorderde kursus van Bill Gates voltooi, wat hom in staat gestel het om wêreldwyd klas te gee en IT-vraestelle op te stel en na te sien.

Nadat hy op versoek van Hoërskool Vanderbijlpark se destydse hoof, mnr. P.W. Pieterse, gehelp het om ‘n rekenaarsentrum by die skool tot stand te bring, het Wimpie in 2002 ‘n pos by Transvalia aanvaar en ook daar ‘n hoëgehalte rekenaarsentrum gevestig. Volgens Transvalia se hoof, mnr. Johan Venske, het Wimpie ‘n passie vir die onderwys gehad – veral vir Inligtingstegnologie, sy vakgebied. In 2018 is hy deur die Onderwysdepartement as beste rekenaarstudie-onderwyser in Gauteng aangewys. Hy was ook by die skool se tennisafrigting betrokke.

Die lewe het egter nie net voorspoed aan Wimpie uitgedeel nie. Hy het reeds as 8-jarige kind sy eerste gesondheidsterugslag gehad toe hy met limfklierkanker gediagnoseer is. Na drie jaar se intensiewe behandeling het hy die kanker oorwin, maar het ernstige skade aan sy een long en nier oorgehou. Hy het egter nie toegelaat dat dit hom van sy lewensblyheid beroof nie en het hom ten volle in sy werk en die kunste, waarvoor hy ‘n groot waardering gehad het, uitgeleef.

In November 2018 het hy ondraaglike hoofpyne begin kry. Aanvanklik is vermoed dat hoë bloeddruk die oorsaak was, maar na deeglike toetse was daar opnuut slegte nuus: Daar was ‘n gewas in sy brein. Die intense pyn is veroorsaak deur die opeenhoping van vloeistof wat met gereelde prosedures afgetap moes word. Die gewas is uiteindelik verwyder en Wimpie moes ‘n geruime tyd in die waakeenheid van Netcare se hospitaal naby Mall of the South, deurbring.

“Dit was moeilike dae en ons het nog nie presies geweet hoe Wimpie na die operasie sou reageer nie,” onthou mev. Joubert. Sy het in daardie stadium nog voltyds gewerk en het tussen haar werk deur gereeld saam met Wimpie se lewensmaat van die afgelope sewe jaar, Mario Grobler, hospitaal toe gery om hom te besoek. Selfs die destydse hewige onluste op die R59-snelweg kon hulle nie keer om Wimpie gereeld te gaan sien nie. Hy was aanvanklik in ‘n koma, en dit was ‘n groot oorwinning toe hy op ‘n dag, terwyl hulle langs sy bed gestaan het, met sy hand teen sy bedraam geklop het. “Ons het vir die eerste keer besef hy was van ons teenwoordigheid bewus. Die neurochirurg, ‘n dokter Omar, het dit as ‘n wonderwerk beskryf,” sê mev. Joubert.

Hoewel Wimpie blind was en van vooraf moes leer sluk, eet en drink, kon hy na ‘n tyd in ‘n rehabilitasiesentrum huis toe kom, waar sy ma en ‘n deeltydse helper hom versorg het.
“Wimpie se onlangse geheue was aangetas maar hy kon alles uit sy jonger jare goed onthou. Deur dit alles het hy nooit sy liefdevolle persoonlikheid verloor nie. Hy het my altyd op die hande gedra,” sê sy ma.

Nadat Wimpie ‘n geruime tyd blind was, het sy sig mettertyd begin terugkeer. Danksy ‘n oefenprogram wat deur sy swaer, die biokinetikus Mike Redelinhuys, vir hom uitgewerk is, het hy in die maande daarna duidelike fisiese vordering begin toon en ook kognitief verbeter danksy die hulp van ‘n plaaslike breinstimulasie-sentrum.
Wimpie het drie weke voor sy dood onverwags longontsteking opgedoen en is in Mediclinic Emfuleni se waakeenheid opgeneem. Sy longe kon nie meer self funksioneer nie en hy was permanent aan ‘n suurstofmasjien gekoppel. Sy hart het in ‘n stadium gaan staan maar weer eens het medici hom deurgehaal.

“Dit was baie erg vir ons dat ons hom weens die Covid-19 reëls nie gereeld kon besoek nie. Op die dag van sy dood het die hospitaal gebel en gevra dat ons moes inkom. Wimpie het baie swaar asemgehaal en ek kon sien dat hy in pyn was. Ek het net heeltyd gebid dat die Here hom moes help. Ek het sy hand vasgehou en hy het myne ‘n ligte drukkie gegee voordat hy rustig weggeneem is. Hy was tevrede om te gaan, daarom het ek ook vrede, al is ek hartseer,” sê sy ma.

* Wimpie word buiten sy ma en Mario ook oorleef deur sy pa, mnr. Herman Joubert, en sy suster Elmarie en haar gesin. Sy naasbestaandes het verlede week tydens ‘n troosdiens by die Nederduits Hervormde Kerk Vanderbijlpark-Suid van hom afskeid geneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button