Valies, hier lê more se koue en wag voor dit ons tref!
Kouefront beweeg more in oor groot dele van Suid-Afrika
Inwoners van die Vaaldriehoek kan hulle maar regmaak vir ‘n paar dae van ysige weer wanneer ‘n kouefront van vanmiddag af oor groot dele van die land kom nesmaak. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is ‘n kouefront besig om die Suid-Wes-Kaap te tref, wat stormwinde en swaar reënval vir die Suid-Westelike kus tot gevolg gaan hê. Die kouefront gaan na verwagting heelwat dieper noordwaarts beweeg en koue toestande in die aangrensende binneland veroorsaak. Die weerdiens voorspel dat temperature in die Vrystaat en Gauteng van more af heelwat gaan daal en veral teen Woensdag ysige koue tot gevolg gaan hê. Gooi dus maar ‘n paar ekstra komberse oor jou bed, hou julle truie of jasse byderhand …. en koop more ‘n bottel Old Browns net vir ingeval die koue te erg is om alleen aan te durf! Foto heel onder: Oud-Vaaldriehoeker Deirdre Dickson het vroeër vanmiddag dié foto van die berge naby Graaff-Reinet geneem – reeds oortrek met ‘n dik laag sneeu. Die Kaapse koue tref more ook die binneland, insluitend die Vaaldriehoek. Die satellietfoto van die SA Weerdiens (hier onder) toon die kouefront wat oor die Kaap inbeweeg. Die foto is omstreeks 14:15 vanmiddag geneem. 
