Transvalia se voormalige ‘leermeester in wysheid’ sterf in Noordwes
"Mnr. Schutte was ‘n leermeester met woorde, poësie en wysheid; iemand wat kon luister en altyd op soek was na die waarheid en regverdigheid"
Retha Fitchat VANDERBIJLPARK. – Mnr. Frans Schutte (80), voormalige Duits-onderwyser van die Hoërskool Transvalia, is op 2 Augustus in Wolmaransstad, Noordwes, oorlede. Sy skoonseun, Francois Duvenhage, beskryf hom as ‘n leermeester met woorde, poësie en wysheid; iemand wat kon luister en altyd op soek was na die waarheid en regverdigheid. Oudleerlinge van Transvalia sal hom onthou as ‘n kleurryke onderwyser wat vlot Duits kon praat, maar wat in die 1970’s ook gehelp het om die skool se rugby na groot hoogtes te lei. Hy was ook betrokke by die skool se drilpeloton. Mnr. Schutte het Transvalia in 1978 gegroet toe hy as adjunkhoof van die Hoërskool Carletonville aangestel is, en in 1982 het hy die eerste hoof van die huidige Hoërskool Wolmaransstad geword. Die “nuwe” Hoërskool Wolmararansstad het in 1983 tot stand gekom nadat die ou hoërskool en die dorp se tegniese skool saamgesmelt het. Mnr. Schutte het die moeilike taak gehad om dié twee skole, wat albei ‘n lang geskiedenis en trotse tradisies gehad het, verder as een skool te lei – ‘n taak waarin hy volgens sy kollegas, uitmuntend geslaag het. Mev. Elna de Bruyn (Rossouw), wat in matriek was toe mnr. Schutte die leisels by Hoërskool Wolmaransstad opgeneem het, sê die eerste jaar was baie moeilik en uitdagend vir onderwysers, leerlinge en ouers. “Om in twee skole skool te gaan en klas te hê in die verversingslokaal en onder die pawiljoene was nie grappies nie, maar met ‘n ferm hand het mnr. Schutte die twee skole na veilige waters gestuur. Hy was ‘n formidabele persoon met ‘n liefdevolle, sagte hart. Ons eer sy nagedagtenis,” sê sy. Mnr. Schutte se dogter, mev. Carina Wasserman, self ‘n toegewyde en gebore onderwyser, is tans hoof van dieselfde skool waaraan haar pa so hard help bou het. ‘n Roudiens is Vrydag, 7 Augustus by die Hervormde Kerk, Wolmaransstad, vir wyle mnr. Schutte gehou. * Sy weduwee, mev. Elwina Schutte, was in die 1970’s ook ‘n bekende skeinat-onderwyseres by Transvalia.

