Matriekafskeidrok, self ontwerp en gemaak
Datiana dink en doen dinge bietjie anders. Sy is kunstig en kreatief en deins nie terug om 'n groot projek aan te pak nie.
VANDERBIJLPARK – Datiana Niemand was nog altyd kunstig. Speel goed klavier ook. ‘n Introvert, maar as sy eers besluit sy gaan iets doen, dan doen sy dit met oorgawe.
Hierdie matrikulant van die Hoërskool Driehoek het verlede jaar ‘n naaldwerkmasjien as Kersgeskenk van familie ontvang. Tot op daardie stadium het Datiana nie naaldwerk gedoen nie, maar haar nuuskierigheid was geprikkel en sy het hier en daar sakkies en sulke klas van dinge gemaak.

Sy het dit baie geniet en die sakkies en haarstrikkies saam met haar tuisgemaakte juwele by markte begin verkoop. In kwartaal twee van hierdie jaar, nadat sy ook ‘n omkapmasjien as geskenk gekry het, het sy besluit sy gaan haar eie matriekafskeidrok ontwerp en maak.
Haar ma, Elaine, erken sy was baie benoud oor dié nuwe projek, veral toe Datiana weier dat sy die rok sien tot die aand van die afskeid. “Ek het darem eers ‘n oefenrok gemaak,” lag Datiana.
Sy erken die rokmakery het haar gehelp om eksamen stres te verwerk. ‘n Week voor die groot aand het een van haar klasmaats, wat eers nie sou matriekafskeid toe gaan nie, besluit om tog maar te gaan.
Natuurlik moes sy ‘n rok hê en vra toe vir Datiana om ook haar rok te ontwerp en te maak! “Ek was baie opgewonde, maar dit was nie so maklik nie. Op ‘n stadium het ons kragprobleme gehad en ek moes by my ouma se huis aan die rok gaan werk. Boonop het die zip gestrip. Ek moes dit oordoen.
“Dit was nagte se werk, maar uiteindelik het sy baie mooi gelyk,” vertel Datiana. Sy gaan volgende jaar haar eie naaldwerk-besigheid op die been bring.
