VANDERBIJLPARK – Om jou kind te sien glimlag, lag en speel, is vir baie ouers vanselfsprekend.
Vir Elize en Pieter van Aswegen is dit ’n droom waarvoor hulle elke dag hoop terwyl hulle alles moontlik probeer doen om hul seuntjie, Johan, die beste kans op ’n normale lewe te gee. Johan se lewe was van die staanspoor af ’n stryd.
Hy is op 34 weke met ’n noodkeisersnee in die lewe gebring nadat sy ma plasenta-loslating ervaar het.
Sy longetjies was nog nie ten volle ontwikkel nie en hy het onmiddellik mediese hulp nodig gehad om asem te haal. Gedurende dié kritieke eerste oomblikke het sy hartjie twee keer gaan staan.
Hy het ook bloeding en bloedklonte in sy brein opgedoen. Ná 45 dae in die neonatale intensiewesorgeenheid kon Johan uiteindelik huis toe gaan.


elektriese aktiwiteit te meet
en moontlike afwykings te
identifiseer.t
Sy ouers het gehoop om hom te sien groei en sy eerste ontwikkelingsmylpale te vier. Later het hul gesin egter nuwe uitdagings in die gesig gestaar.
Johan is met infantiele spasmas,’n seldsame en ernstige vorm van epilepsie, gediagnoseer. ’n Spesiale toets wat breingolwe monitor (EEG) het ernstige afwykings in sy breinaktiwiteit getoon, met bevindings van hipsaritmie – ’n breingolfpatroon wat met infantiele spasmas geassosieer word.
Die aanvalle het veroorsaak dat Johan verskeie ontwikkelingsvaardighede wat hy reeds aangeleer het, verloor het. Hy is ook met serebrale gestremdheid gediagnoseer.
“Ten spyte van alles waardeur hy al moes gaan, hou ons dapper klein vegtertjie aan om elke liewe dag met ongelooflike krag en deursettingsvermoë te veg,” sê ma Elize. Johan ontvang langtermynbehandeling met Keppra en Sabril om sy epileptiese aanvalle te help beheer.
Hy benodig weeklikse fisioterapie, gereelde arbeidsterapie en opvolgafsprake by sy neuroloog. Herhaalde gehooren oogondersoeke, asook verdere EEGen MRI-skanderings, is ook deel van die monitering van sy toestand en behandeling. Dié voortgesette sorg bring gereelde mediese afsprake en terapie mee.
Elize en Pieter doen nou ’n beroep op die publiek om hulle te help om Johan se behoeftes te bekostig. Elize het ’n BackaBuddy-veldtog, Johan – Our brave little fighter, begin met ’n teikenbedrag van R50 000.
“Ons grootste wens is eintlik so eenvoudig. Ons wil net hê dat Johan die kans moet kry om groot te word, te leer en eendag saam met sy boetie en sussie te speel, te lag en kosbare herinneringe te maak,” sê Elize.
“Ons droom daarvan om hom die klein, alledaagse oomblikke te sien geniet wat soveel gesinne soms as vanselfsprekend aanvaar.”
Vir Johan se ouers lê die hoop in die geleenthede wat hy nog kan kry om te groei, te leer en nuwe vaardighede aan te leer. Mense wat die gesin wil ondersteun, kan Johan se BackaBuddy-veldtog besoek en ’n bydrae maak.

