‘n Redelik ernstige aardbewing het gister, 26 September, ‘n ent weg vanaf Suid-Afrika se suidelike kuslyn onder die see plaasgevind. (Vaalweekblad het nog nie die presiese afstand nie maar dis vermoedelik so 1000 seemyl weg vanaf SA se suidelike kus).
Die aardbewing het 6.2 op Moment-magnitudeskaal gemeet maar het glo geen tsunami-gevaar ingehou nie. Seismiese aktiwiteit is in dieselfde tyd in dele van die Midde-ooste en Noord-Amerika aangeteken.
Kenners sê dat so ‘n aardbewing wel ‘n invloed kan hê op ander aardplate en minute, ure of selfs dae later gevolg kan word deur aardbewings, duisende kilometer vanaf die episentrum.
Hoewel inwoners van die Vaaldriehoek dit waarskynlik nie sou kon voel nie, het sommige Kapenaars gisteraand op You Tube en Facebook gerapporteer dat hulle die aardbewing wel duidelik kon voel. Walter Daniels, wat naby die Kaapstad-lughawe woon, sê dit het soos ‘n groot ontploffing geklink, waarna sy huis geskud het. Hy het gedink ‘n vliegtuig het geval.
Sally Spencer van Kaapstad, Sharon Kruyer van Seepunt en haar suster van Century City het gerapporteer dat hulle dit ook duidelik kon voel. Volgens Mike Amira het dit soos ‘n vuurpyl geklink wat oor sy huis gelanseer is. Azure Blue van Port Elizabeth sê dat dit ook in dié stad gevoel is en dat geboue geskud en vensters in hul rame gevibreer het. Kyk by hierdie skakel na ‘n video met meer inligting: https://www.youtube.com/watch?v=0ARD348VS34&feature=youtu.be