Local newsNewsNewsSportSport

Van naderby – Vaalweekblad se sportredakteur

VANDERBIJLPARK. – Hy is die een wat by amper elke sportbyeenkoms sy opwagting maak. Kamerasak oor die skouer, langlens-kamera in die hand.

Rustig alles dophou en dit dan keer-op-keer regkry om die perfekte foto te neem. Daarvan getuig al die toekennings wat hy oor die jare heen versamel het. Ettienne van Rensburg, Vaalweekblad se sportredakteur en redakteur van Ster Suid, is wyd bekend vir
sy raakvat beriggewing en uitstekende foto’s.
Dit was so amper of Ettienne het nooit joernalis geword nie. Hy gee toe hy was van kleins af lief vir geskiedenis en tale.
Hoe dan ook anders met ‘n oupa wat ‘n tolk in die hof was en omtrent sewe tale magtig was?
Ettienne, ‘n gebore en getoë Vaaldriehoeker, het nadat hy matriek aan die Hoërskool Transvalia behaal het, besluit om Bedryfen Personeelsielkunde aan die destydse Vaal Pukke (NWU) te gaan studeer, wat hy opgevolg het met ‘n honneurs in sosiologie.
Aan die begin van die 2000s het hy by Vaalweekblad aansoek gedoen vir die pos as sportjoernalis. “Willie Buys was toe nog redakteur en dit was hy wat my die kans gegee het,” onthou hy. “Aan die begin het ek gedink hy is baie hard op my. Ek onthou hoe hy my eenkeer ‘n voorbladstorie sewe keer laat oordoen het.Vandag besef ek hoe bevoorreg ek was dat hy my geleer het.”

Ettienne met sy toerusting, gereed om die
beste foto’s vas te vang. Foto: Verskaf

Vanaf 2004 was Ettienne werksaam by nasionale koerante in Johannesburg en het hy baie oor joernalis wees en fotografie geleer. Teen 2009 het hy na Vanderbijlpark teruggekeer. In die tyd het hy sy oud-kollega en huidige senior redakteur van Vaalweekblad, Elsjé Vermeulen, by ‘n sportbyeenkoms raakgeloop. Kort daarna het Retha Fitchat, wat daardie tyd redakteur van Vaalweekblad was, hom gekontak
en die res is geskiedenis. Jare in die koerantbedryf het Ettienne se natuurlike skryftalent geslyp, en weet hy net hoe om die beste storie uit elke
wedstryd of situasie te haal. “Ek het nog altyd baie hard gewerk en myself geleer om foto’s te neem. Uitgehou en aangehou. Ek stel baie hoë standaarde aan myself,” erken hy.
Deur die jare het hy geleer om vir homself te lag. “Ek onthou die een dag was ek by Hoërskool Vereeniging om ‘n rugbywedstryd af te neem.
So is ek op en af langs die veld doenig met my kamera. My aandag was vir ‘n oomblik nie op die spel nie en die volgende oomblik toe word ek platgeduik! My een leerskoen glad in twee geskeur na die geweldige slag. Vir die mense op die pawiljoen was dit skreeusnaaks. Wat kon ek doen? Ek het maar my ander skoen ook uitgetrek, my kouse in die heel skoen geprop, broekspype opgerol en aangegaan met my werk”, vertel hy en lag van vooraf oor die petalje.
Hoogtepunte was daar al baie, maar hy sonder tog die keer uit toe hy die All Blacks op Ellis Park (amptelik Emirates Airline Park) kon afneem. “Dit bly ‘n belewenis om die Springbokke te kan afneem en dan was daar al die boks wêreldtitel gevegte…” Hy vat eers ‘n sluk van sy koffie.
“Ek is ‘n workaholic, moet altyd besig bly en ek wil altyd iets nuuts leer. Maar my dogter sê ek sukkel heeldag net met die swembad,” lag hy en beduie na sy hande wat plek-plek nerf-af is na ‘n onlangse gespook met die swembadpomp.
Naas sy werk, geniet hy dit om tyd saam met sy gesin deur te bring en ‘n nuwe motor te soek. “Ek is mal oor karre.
Daardie onpraktiese groot soort met baie spoed en krag. As ek tog nou net ‘n V8 kan kry,” sug hy. Dan val hy dadelik weg met nog ‘n storie van hoe hy eens op ‘n tyd ‘n karretjie gery het “wat deur voëltjiemis aanmekaar gehou is” en hy ‘n vorige redakteur Vereeniging toe moes neem om die se baie duur motor te gaan haal.
Lekker om na sy stories te luister, goed om sy artikels te lees en foto’s te sien. Vir opkomende fotograwe het hy die raad: “Observe, copy en innovate. Laat niks oor aan kans nie en onthou, as jy nie daar is nie, kan jy nie die foto neem nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button