Voormalige wêreld-rekordhouer steeds vuur en vlam
VEREENIGING. - Die welslae wat die immergroen Marietjie Barnard Ceronio as atleet behaal het, sal selfs die ongelowige Thomasse in ons midde laat wonder of daar nie iewers ‘n fontein van ewige jeug is nie.
Op 63-jarige ouderdom neem sy steeds elke Saterdag aan die Parkrun deel, hoewel haar loopbaan as meesters-atleet stopgesit is nadat sy in 2010 met perifere vaskulêre siekte gediagnoseer is.
Dié oud-leerling van die Hoërskool Vereeniging is voorwaar een van die top baan-, pad- en landloopatlete wat Suid-Afrika nog ooit opgelewer het.
Sy het haar nasionale kleure in atletiek, landloop en padwedlope 21 keer verdien.

Marietjie Ceronio, het 21 keer haar
Suid-Afrikaanse kleure in atletiek,
landloop en padwedlope verwerf.
Maar dis nie al nie. Sy spog voorts met 50 SA-titels in meesters-atletiek wat sy van 1992 tot 2010 (10 000m, 5 000, 2000m-hindernis, 1500m en 800m) verwerf het. Van 2003 tot 2010 het sy agt agtereenvolgende SA-titels in landloop verower.
Die kroonjuweel in haar atletiek versameling is die wêreldrekord in die 2000m hindernis (40-44jaar) wat sy in 1997 in San Jose, California in die VSA in ‘n rekordtyd van 7:47.56 afgelê het.
Sy is ook in haar loopbaan 73 keer deur verskillende provinsiale- en klub sportliggame as Sportvrou van die Jaar aangewys. Was dit nie vir sportisolasie weens Suid-Afrika se apartheidsbeleid nie, kon sy waarskynlik nog groter hoogtes bereik het.
Waar het dit alles begin?

haar nie bang nie.
“Op laerskool het ek aan naellope deelgeneem, want dit was al wat daardie jare beskikbaar was om aan deel te neem, maar ek het toe reeds saam met my ouer broers kaalvoet om die blok gedraf, want dit was vir my baie lekker. Op hoërskool en universiteit het ek aan middelafstande en landloop deelgeneem en provinsiale kleure daarin verwerf. Ek het ook SA Universiteite-kleure in landloop behaal,” vertel sy.
“My eerste deelname aan die Wêreld Meesters Atletiek Kampioenskap in 1993 in Fukuoka, Japan sal my altyd bybly. Dit was die eerste jaar dat Suid-Afrika toegelaat is om aan die internasionale meesters atletiek kampioenskappe deel te neem. By dié byeenkoms het ek drie goue medaljes (10km landloop, 10 000m, 2000m-hindernis) en ‘n silwermedalje in die 5 000m verower,” sê sy.
Weens die isolasie-jare het sy as senior atleet nooit internasionaal deelgeneem nie. Maar sy het as meesters-atleet dubbel en dwars daarvoor opgemaak.
Nog hoogtepunte:
– Wêreld Meesters Spele, Brisbane Australië, 1994: Goue medaljes in die 10km landloop, 21.1 km en 2 000m-hindernis.
– Wêreld Meesters Atletiek Kampioenskappe, Buffalo, NY, USA, 1995: Goue medalje in die 10km landloop en silwermedalje in die 2 000m-hindernis.
– Fukuoka, Japan – 1993 – Wêreld Meesters Atletiek Kampioenskappe.
– Brisbane Australië – 1994 – Wêreld Meesters Spele.
– Buffalo, NY, VSA – 1995 – Wereld Meesters Atletiek Kampioenskappe.
– San Jose, California, VSA – VSA Nasionale Kampioenskappe.
Persoonlike beste tye:
21.1km – 79:48
10 km – 36:45
5 000 m – 17:43
2 000m hindernis – 7:45
