Niemand behalwe die moordenaar/s van die jong plaasbestuurder, Brendin Horner (22) weet nog wat die motief vir sy wrede moord Donderdagaand was nie, maar sy werkgewer, Gilli Scheepers, gaan niks in sy pad laat staan om die antwoorde te vind en die skuldiges te laat boet nie.
Scheepers, bekende leierboer van die Oos-Vrystaat en eienaar van die Bloukruin-landgoed waarvoor Brendin gewerk het, het ‘n privaatspeurder aangestel om die motief vir die moord én wie die moordenaar/s is, oop te krap. ‘n Beloning van R50 000 word uitgeloof vir inligting wat tot die skuldige/s se inhegtenisneming sal lei.
Brendin was Donderdagaand, 1 Oktober, omstreeks 18:30 nog by sy werkgewer en het gesê hy gaan daarna ‘n draai maak by sy pa, wat op een van die buurplase in diens is, voordat hy huis toe sou gaan na De Rots – die plaas waar hy self gewoon het.
Brendin se meisie van die afgelope drie jaar, Lenize Taljaard, en sy familie het bekommerd geraak toe hy teen laat-aand nog nie by sy huis was nie en nie sy selfoon beantwoord het nie. Hulle het begin rondbel en self na sy bakkie begin soek voordat die polisie se hulp ingeroep is.
Teen ligdag Vrydagoggend het Brendin se pa, Robbie, en ‘n kollega, Jaco Kleingeld, self die gruvonds gemaak. Brendin se liggaam is sowat 400 meter van sy huis af langs ‘n draadheining gevind waar hy met ‘n geweefde swart tou en ‘n gespegordel aan ‘n heiningpaal vasgebind was. Hy het steekwonde aan sy bolyf en kop gehad en is vermoedelik ook verwurg. Beserings aan sy regterhand dui daarop dat hy hom verbete teen sy aanvallers probeer verdedig het.
Brendin se pet en ‘n mes, moontlik die moordwapen, is naby die toneel gevind. Daar is agterna vasgestel dat ‘n veiligheidskamera Brendin se Bloukruin-bakkie omstreeks 19:45 Donderdagaand in Fateng Tse Ntsho, ‘n township in Paul Roux, afgeneem het. Brendin was vermoedelik toe reeds vermoor. Die bakkie is die volgende oggend verlate op die N5-roete op pad na Bethlehem, gevind. Die motief vir die moord is duister, sê sy werkgewer. Brendin was ‘n gewilde werknemer en sover vasgestel kan word, het hy nie vyande gehad nie.
Van sy kollegas het aan joernaliste gesê hulle is bekommerd dat die moord ‘n makabere “waarskuwing” inhou.
Boodskappe van skok en medelye is die afgelope dae deur Brendin se familie en vriende op Facebook geplaas. ‘n Vriendin, Jessica Dedré Loots, som sy karakter so op: “Brendin, eintlik het ‘n wêreld soos dié jou nie verdien nie. Jou trots was nie net in dit wat jy bereik het nie, maar in wie jy as mens was. Ek het jou bewonder oor hoe jy elkeen wat ‘n pad met jou gekruis het, waardig genoeg laat voel het. Jy was só onwrikbaar jouself; plat op die aarde. Jy het ‘n sagte woord gehad vir die met ‘n harde hart. Jy kon ‘n bakkie 4X4 soos niemand anders nie, jy kon “Ek is meer werd – John James” voluit sing, jou ernstigheid was raakgesien rondom n braaivleisvuur terwyl jy terselfde tyd n Afrikaanse grappie kon vertel het. Dis in die manier hoe jy altyd “jou vrou” ingesluit het by elke opregte plan en aspek van jou lewe wat buitestaanders n dieper insig van die liefde kon gee. Jy was min kwaad juis oor jy vroeg besef het dat innerlike haat meer by jou sal steel as by iemand anders. Jou gebede was konstant, lank nadat joune verhoor was vir rëen op die lande.”
Net drie dae voor sy dood het Brendin ‘n gedeelte uit Psalm 37 op sy Facebook-blad gedeel: “Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou…” Van sy Facebook-vriende het kommentaar daarby gelewer dat God geweld haat en dat hulle glo Hy sal self met die moordenaars afreken.
Die Vrystaatse leier van die Vryheidsfront Plus, Jan van Niekerk, sê die sinnelose, wrede moord op Brendin word ten sterkste veroordeel en die VF Plus vereis ‘n antwoord van die minister van Polisie, Bheki Cele, of die jong plaasbestuurder dit verdien het om só te sterf. Die VF Plus eis verder dat die vermeende moordenaars so gou as moontlik vasgetrek word. “Plaasaanvalle- en moord is buite beheer en kan nie as gewone misdaad beskou word nie, veral in ag genome die wreedheid wat daarmee gepaard gaan,” sê Van Niekerk.
“Hierdie soort misdaad kan slegs effektief bekamp word indien die regering eerstens die erns daarvan erken, dit tot ‘n prioriteitsmisdaad verklaar en spesialiseenhede getaak met landelike beveiliging op die been bring.”
Van Niekerk het namens die VF Plus ‘n beroep op die landbougemeenskap gedoen om betrokke te raak by plaaslike veiligheidsstrukture en moedig boere aan om hulself te beveilig en te verdedig. 
