Opvolgberig: 2 in hegtenis na moord op jong plaasbestuurder
Bebloede klere en skoene by veediewe gevind in 'n township naby Paul Roux
Speurders van die Polisie op Senekal het gister twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op Brendin Horner, ‘n jong plaasbestuurder van die Bloukruin-boerderygroep.
Volgens polisiewoordvoerder brig. Motanto Makhele is die verdagtes in Farent tse Tho, ‘n township by Paul Roux, vasgetrek. Bloedbevlekte skoene en klere is in hul besit gevind. Die bewysstukke sal forensies ondersoek word om te bepaal of die bloed wel dié van Brendin is.
Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 43 jaar oud, is glo veediewe en die moontlikheid word ondersoek dat Brendin op hulle afgekom het voordat hulle kon steel.
Albei verdagtes word aangehou en sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Senekal verskyn.
Brendin, wat die afgelope jaar as plaasbestuurder vir Bloukruin-boerdery gewerk het, het Donderdagaand op pad huis toe verdwyn. Sy liggaam is vroeg Vrydagoggend sowat 400 meter van die plaashuis waar hy gewoon het, gevind. Hy was aan ‘n yster-heiningpaal vasgemaak en is vermoedelik met ‘n skerp voorwerp gesteek en verwurg.
Sy gesteelde maatskappy-bakkie is later Vrydag langs die N5-roete, rigting Bethlehem, gevind.
Lees vanoggend se vroeëre berig hier:
Nasionale nuus: Privaatspeurder moet motief vir Brendin se moord vasstel
