Manne, moenie vir dié sexy ‘Tukkies-studente’ val nie
So ‘n “vriendin” kan jou duur te staan kom!

Retha Fitchat
Menere, dink twee keer voordat julle die “aanvaarknoppie” druk om daardie aantreklike “student van Pretoria” deel van jul Facebook-vriendekring te maak. So ‘n “vriendin” kan jou duur te staan kom!
Dit is die raad van Lukas Meyer, voormalige nuusredakteur van Rapport en jarelange vriend van Vaalweekblad.Lukas sê dat hy, soos baie ander manlike Facebook-gebruikers, deesdae gereeld vriendskapsversoeke van jong meisies met pragtige profielfoto’s ontvang, maar by nadere ondersoek blyk dit dat dit vals Facebook-profiele is wat waarskynlik deur skelms uit ander lande geskep is.
Die doel van sulke vals profiele is gewoonlik om jou Facebook-vriendekring binne te dring en jou en jou vriende se persoonlike inligting te bekom. Op dié manier kan niksvermoedende mense uit hul geld geswendel word, vals nuus versprei word of mense kan selfs afgepers word.
Lukas sê hy is onlangs op dieselfde dag deur twee sogenaamde dames uitgenooi om vriende te word – albei nogal “Tukkies-studente”.
“By nadere ondersoek het dit geblyk albei was vals profiele wat waarskynlik deur Nigeriërs geskep is. Met die een het ek 26 gemeenskaplike vriende en met die ander een 24. Dis feitlik almal manlike vriende en goeie mense. Ek probeer nie heilig wees nie en gee nie om met wie my Facebook-kontakte vriende is nie, maar hierdie soort versoeke lei tot baie probleme vir ons almal en dra by tot onder meer gekloonde en vervalste profiele op Facebook.
“Let op die taal wat die mense wat jou uitnooi, gebruik, waar hulle bly en waar hulle sogenaamd gestudeer het. Kyk na die inhoud van hulle Facebookblaaie en met wie hulle vriende is. En as daar net suggestiewe halfkaalfoto’s is, is dit ‘n seker teken van ‘n vals profiel wat jou wil infiltreer. Ek sê weer: ek probeer nie veroordelend wees nie, maar dit raak nou te erg. Mens moet darem ‘n ander persoon se Facebook-profiel behoorlik deurkyk voor jy iemand goedsmoeds as vriend aanvaar,” sê Lukas.
Volgens een van die “oulike meisies” wat Lukas as vriend uitgenooi het, Gardaline Vanessa, kom sy oorspronklik van Uitenhage en werk tans by ‘n haarsalon in Pretoria terwyl sy ook aan die Universiteit van Pretoria studeer. Dié vals profiel is intussen deur Facebook verwyder. Die blonde meisie op die profielfoto is waarskynlik onwetend betrek en weet dalk nie eers dat haar identiteit deur die swendelaars gesteel is nie. Die skelms stel egter nie net Facebook-lokvalle vir mans nie. Baie vroue, veral in hul middeljare, ontvang ook gereeld vriendskapsversoeke van aantreklike “wewenaars” of “geskeides” wat ‘n dame vra om vriende te word. Gewoonlik gaan die uitnodiging gepaard met soetsappige komplimente oor hoe mooi sy is. Sulke “alleenlopers” stel hulself gewoonlik as welgestelde ingenieurs, boere of sakemanne voor, wat op soek is na ‘n langtermyn verhouding of ‘n liefdevolle lewensmaat.
O ja, en moenie vergeet nie, almal vertel hoe hoog hulle “eerlikheid en opregtheid” op prys stel. Verskeie eensame vroue, selfs in ons eie Vaaldriehoek, het al op die harde manier geleer dat jy sleg seerkry as jy vir hul vleitaal val. Onthou maar dat die mens op die profielfoto dalk ‘n gelukkig getroude man in ‘n ander land is, wat nie eers weet dat sy foto gesteel is om jou te verlei nie!Verdagte profiele kan by Facebook aangemeld word, waarna die skuldiges gewoonlik dadelik deur Facebook ondersoek en verwyder word. Miljoene sulke profiele is reeds in die afgelope jare deur Facebook verwyder, maar volgens www.omnicoreagency.com/facebook-statistics sluip daar vermoedelik steeds sowat 120 miljoen vals profiele op Facebook rond. (Facebook het tans sowat 2.5 biljoen aktiewe gebruikers per maand).
Wat kan Facebook-gebruikers doen om te voorkom dat hulle slagoffers van swendelaars word?
As die profiel pas geskep is en die persoon baie min vriende het, is dit dalk vals. Het jy en die persoon enige Facebook-vriende in gemeen? Indien nie, is dit waarskynlik vals, maar wees versigtig: sulke swendelaars het dalk reeds vriende met van jou ander vriende, jou kerkgenootskap of sakelui in jou omgewing geword, wat dit moeiliker maak om dit as ‘n vals profiel te herken. Let ook op die taal en styl.
As jou Afrikaanssprekende broer of beste vriend skielik in Engels met jou op Facebook begin gesels of pornografie of aanhitsende politieke nuus aanstuur as dit nie sy gewone styl is nie, kan jy ook dadelik agterdogtig raak en die moontlikheid ondersoek dat sy identiteit gekloon is – selfs al is dit sy bekende profielfoto en sy eie naam. Moenie op so ‘n persoon se Facebook-boodskappe reageer nie. Kontak jou broer of vriend liewer privaat en vind só uit wat regtig aangaan.
FOTO: Een van die vals profiele wat reeds deur Facebook verwyder is:

