NewsOpinions

‘Ek bid dat hulle my nie te veel sal martel voor ek sterf nie’

Boervrou se hartroerende gebed stuur koue rillings deur 'n mens se lyf

 

Die wrede moord op Brendin Horner, die jong plaasbestuurder van die Paul Roux-omgewing in die Vrystaat, het ‘n bloeiende sweer oopgekrap vir baie boere en hul simpatiseerders. Soos in Brendin se geval, hoor die publiek gewoonlik agterna hoe die slagoffers gemartel is voor hul dood. Vaalweekblad het die afgelope twee weke verskeie briewe en kommentare ontvang van boervroue wat vertel van die vrees waarin hulle dag-vir-dag leef – en van hul gebede dat wanneer dit hulle beurt is om vermoor te word, dit vinnig sal wees.

Hierdie kommentaar van Linda Ras, ‘n Suid-Afrikaanse boervrou, op ‘n berig in Vaalweekblad, het ons joernaliste in besonder aan die hart gegryp:
Linda skryf: “Dit is so hartseer dat die jongman se lewe kortgeknip is en op so ‘n wrede manier.
Ek dink nie mense besef in watter vrees ons as boere leef nie. Om elke aand te gaan slaap met wapens binne bereikbare afstand. Jou hart wat ‘n slag mis as jy ‘n onbekende geluid buite op die werf hoor.
My gebed, elke aand…..
Ek weet ons kan enige tyd aangeval word en dat ons seker binnekort ook vermoor gaan word op die plaas…. ek is nie bang om dood te gaan nie, maar asseblief Hemelse Vader, ek wil net nie te veel gemartel word voor ek sterf nie.”

Hierdie brief stuur koue rillings teen ‘n mens se ruggraat af. Vaalweekblad kan net hoop dat daar iewers in ons regering en in ons regstelsel nog mense met regverdige harte is wat verstaan wat ons land se boere deurgaan en ook verstaan waarom hulle en hul ondersteuners nou by ‘n punt gekom het waar niemand meer kan terugsit en dit gaan aanvaar nie.

Dit is onbeskryflik onmenslik dat ons land se boere, boervroue, hul kinders en plaaswerkers aan hierdie soort verskrikking blootgestel word. Mag die regering se oë oopgaan en mag die skuldiges so swaar gestraf word dat hulle nooit weer ‘n dag se vryheid sal sien nie.

Vaalweekblad bid vir ons land se boere saam met almal wat hul belange op die hart dra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button