NewsNewsSportSport

Rugbyvlam hou aan brand

VEREENIGING. - ‘Old Boys’ tree uit, maar nooit af nie.

Dit is die ongeskrewe Goue Reël waarop Vereeniging Rugbyklub se sukses die afgelope eeu gebou is. Tradisie, trots en kameraadskap is volgens
die 36-jarige Mike Brand die hoofredes waarom hy vir 18 jaar by die Groen, Wit en Rooi betrokke was.
“Niks klop die gevoel om daai eerstespantrui oor jou kop te trek nie.
Dis onbeskryflik,” vertel hy.

As kaalvoetkannetjie het hy R15 op ‘n Saterdag as baljoggie by die klub verdien en later het hy as een van die staatmakers en kapteins van die klub ontluik.
“Ek was 11 jaar oud toe ek as baljoggie by die klub begin het. Dit was vir my iets besonders om langs die veld rond te beweeg en die bal vir die ooms aan te gee. Ek het na spelers soos Jaco Visser, Duitser Bosman en Fanie van Wyk opgekyk,” vertel.


Die oorhandiging van die rugbyvaandel by Vereeniging se Kiewietklub van een generasie na die ander is ook iets bitter spesiaal. Die Bosmans is volgens Brand ‘n sprekende voorbeeld. Die ontslape Piet Bosman, een van die klub se groot geeste, sal trots wees dat ‘n derde generasie van
sy stamboom by die klub betrokke is. En dit is waarskynlik nie die laaste nie.
“Sonder ‘n ryk tradisie en sterk broederskap soos hierdie, sou Vereeniging Rugbyklub nie 106 jaar oud geword het,” sê Brand, wie se loopbaan in 2014 na ‘n ernstige kniebesering kortgeknip is.
Hoewel hy tans anderkant die Boereworsgordyn in Centurion sy brood en botter as verkoopsman verdien, maak hy seker dat hy op hoogte bly
wat by die klub aangaan. As speler was hy ‘n klubman duisend wat nie ‘n aks vir die fisieke sy van die spel teruggedeins het nie.
Hy het ook vier jaar vir die Valke se amateurspan gespeel wat ‘n eer en voorreg op sy eie was. Maar soos hulle sê, het elke sport sy beserings.
“Ek het ‘n paar keer weens beserings onder die mes beland, maar ek het altyd gedruk om terug te kom op die veld om my ‘broers’ te help.
“Ek het ook ‘n paar keer trane gestort wanneer my seisoen vroeg deur ‘n besering kortgeknip is, want ek het gevoel ek laat die klub en my
spanmaats in die steek,” sê hy.
“Die broederskap is ongelooflik en ek mis dit.
Dit is iets wat niemand by jou kan wegvat nie. By Vereeniging is jy familie. Die Groen, Wit en Rooi verwelkom jou met ope arms en jy voel dadelik tuis.”
Een maal ‘n Kiewiet, altyd ‘n Kiewiet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button