Vervoermaatskappy sluit nadat stakers vragmotors verwoes
HENLEY-ON-KLIP. - ’n Vervoermaatskappy is verlede week genoop om sy deure te sluit nadat stakende werkers glo miljoene rand se skade aan vragmotors aangerig het.
Bogdans Dry Bulk Transport, wat meer as 150 vragmotors besit, sal nou glo sowat 200 mense moet aflê. Die maatskappy bestaan al meer as dertig jaar.
Die eienaar, Bob Kazmierczak, het in 1990 uit kommunistiese Pole na Suid-Afrika geëmigreer en die onderneming van die grond af opgebou. Kazmierczak het aan die media vertel dat sy moeilikheid begin het nadat die vakbond Sancatdra, wat blykbaar nie geregistreer is nie, saam met die EFF die bestuur van die maatskappy wou oorneem.
Werkers was glo ontevrede oor vergoeding op ’n vakansiedag in September. Van die maatskappy se vragmotors is tydens die stakings aan die brand gesteek en met klippe bestook. Die EFF ontken dat hulle betrokke was en die vakbond het by monde van Daniel Mofokeng, president van Sancatdra, ontken dat enige lede by die brand van die vragmotors betrokke was. Bogdans het op 14 Oktober ’n interdik teen die stakers gekry en verskeie vragmotorbestuurders afgedank.
