Spoed en presisie was aan die orde van die dag. Die kompetisie was ‘n Western Mounted Games (WMG), wat ‘n baie gewilde en aksiebelaaide perdesport is. Dit bestaan uit verskeie afdelings. 

Ruiters moet in vyf van die 23 afdelings hul talent ten toon stel. Op nasionale kompetisievlak moet ruiters oor ‘n tydperk van drie dae aan 12 van die 13 toetse deelneem. Volgens Santie Walters van Riverside Equestrian Centre is dit belangrik dat mense daarop moet let dat enige perderas suksesvol aan die sport kan deelneem. Volbloed perde, Arabiere, Anglo’s, Boerperde en perde van ryskole hou verskeie nasionale rekords in die verskillende klasse.

“Die sukses van ‘n ruiter en perd kombinasie hang grootliks af van hulle vlak van opleiding, die span se presisie in die voltooing van ‘n toets en die vermoë van die ruiter om spoed en draaie akkuraat te kan beoordeel. “Pretdae soos die van die afgelope naweek is daarop gemik om ‘n platform vir bestaande WMG ruiters te skep om hulle vernuf teen die beste van ander te toets, om blootstelling te gee aan die ruiter wat met ‘n nuwe perd begin kompeteer, of selfs aan ruiters wat wonder of die sport vir hulle is,” verduidelik Santie. Vir enige verdere navrae kan belangstellendes Santie by 082 602 7451 kontak of Riverside Equestrian Centre op hul Facebookblad volg.
