NewsNewsSportSport

NWU-breier sien uit na 2021

VANDERBIJLPARK. – Min mense se name beskryf hulle so akkuraat soos syne.

Sonder om ‘n lesing in onomatologie (studie van name) af te steek, word sy naam in ‘n neutedop met die bravade en veggees van ‘n vegter in ander tale vergelyk. Enigeen wat die 47-jarige Vaaldriehoeker, Gunder Williamson in sy fleur gesien speel het, sal getuig dat hy ‘n gedugte en passievolle rugbyspeler was.


‘n Vegter wat nooit opgee nie. Deesdae as afrigter, ploeg hy sy kennis en passie op skool-, klub- en provinsiale vlak terug. Om Williamson die afrigter te verstaan, is dit belangrik om sy agtergrond en ervaring as speler te ken. Min voorrymanne kan daarop roem dat hulle ewe tuis op loskop- en vaskopstut was en in albei posisies op die hoogste vlak gespeel het.
In sy speeldae het hy die skaal op 122kg vasgetrap en 1.85m in sy sokkies gestaan. Hy het onder meer vir Vaaldriehoek, Griekwas, Noord-Vrystaat, OosTransvaal, Luiperds, Valke en Bulls (Super 12) rugby gespeel.
Sy groot deurbraak as speler het gekom toe hy vir die SA o.23-span en vir die Opkomende Springbokke gekies is.
Die vroeë kwotastelsel van die SuidAfrikaanse Rugbyvoetbalunie (SARU) het egter ‘n stokkie voor sy Springbok-aspirasies gesteek. Maar dis water onder deur die brug. Al wat hy begeer, is om deel van die spel met die ovaalbal te bly.
Hy is tans die mede-afrigter van NWU Vaal se o.21-rugbyspan wat verlede jaar die Valke-liga gewen het en sien uit na 2021.
“Ek geniet dit verskriklik baie by NWU. Dis ‘n familie met goeie mense en ‘great’ spelers. Ek sien uit om elke dag af te rig en kan nie wag om die manne weer te sien oefen en speel nie.
NWU se mense kyk na mekaar en gee om vir mekaar. Die bestuurspan gaan uit hul pad vir die spelers en afrigters,” sê hy.
As afrigter het hy al die gesogte Beeldtrofee op skoolvlak omhoog gehou en sy welslae saam met die Valke se o.19 en o.20-span het nie ongesiens verbygeglip nie. Hy was bevoorreg om onder breiers soos Chris Grobler, Phil Pretorius, Eugene van Wyk, Jacques Swanepoel, Chaka Willemse en Pote Human sy rugby-ambag te leer.
“Ek was gelukkig om deur my loopbaan goeie afrigters te hê. Om te speel moet jy geestelik en fisiek fiks wees. ‘n Mens se voorbereiding as speler en as afrigter verskil. Elkeen het sy unieke uitdagings. As speler en afrigter moet jy kan ‘evolve’ saam met die spel en elke dag iets leer,” gee hy te kenne. As afrigter bou hy sy sukses op twee hoekstene: dissipline en die Here.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button