NewsNewsSportSport

Christiaan laat hom nie onderkry nie

MEYERTON. – Christiaan Bronkhorst was nog altyd lief vir sport. Op skool het hy in rugby en krieket uitgeblink.

Na skool het hy ‘n goeie werk gehad en steeds krieket gespeel, tot op ‘n dag in 2012 toe ‘n motorongeluk sy lewe verander het. Hy was toe slegs 21 jaar oud. Die kranige sportman het hom skielik in ‘n rolstoel bevind.
Nie net was sy sportdrome vernietig nie, maar hy kon ook nie met sy werk as gekwalifiseerde sweiser voortgaan nie. Christiaan het egter nie toegelaat dat omstandighede hom onderkry nie.
Met die volgehoue ondersteuning van sy ouers, vriende en familie het hy geleer hoe om so selfstandig moontlik te wees. Vandag kan hy self sy aangepaste motor bestuur. Die eerste twee jaar na die ongeluk was hy werkloos, maar selfs in daardie tyd het hy vis-aas by die huis gemaak en verkoop. Daarna het hy administratiewe werk gedoen wat hy baie geniet het.
Sowat ‘n maand gelede het hy sy werk weens die ekonomiese knelling van die Covid-19 regulasies verloor.
In 2015 het hy en ‘n vriend besluit om rolstoel basketbal te probeer. Vir Christiaan was dit ‘n vreugde om weer op ‘n sportbaan te wees en hy het dadelik hard begin oefen. Kort voor lank was hy een van sy klub, die Eagles, se sterre. In 2018 was hy deel van die Amawheelaboys, soos wat die Suid-Afrikaanse nasionale span bekend is, wat aan die Fazza Internasionale Rolstoel Basketbal-toernooi in Dubai deelgeneem het.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Dit is ‘n baie mooi land, maar sjoe, dit is baie warm daar,” onthou hy.
Agt lande, waaronder die Verenigde Arabiese Emirate, Marokko, Chinese Taipei, Turkye, Suid-Afrika, Thailand, Japan en Korea, het aan die toernooi deelgeneem. Die Amawheelaboys het vyfde geëindig. 2018 was vir Christiaan ‘n goeie jaar, want hy is toe ook as ‘n Supersport Rolmodel aangewys. In 2019 het hy weer vir die Eagles gespeel, maar vanjaar kon hy weens die inperkings nie deelneem nie.
“Rolstoel basketbal het in verskeie ander lande ‘n groot aanhang en die spelers speel professioneel. Hier in Suid-Afrika is die sport nie so bekend nie. Ons moet alles self betaal en dit kan nogal ‘n duur speletjie raak. Net om by ‘n oefening uit te kom is moeilik, want die naaste klubs is in Johannesburg,” sê Christiaan. Hy sal graag wil sien dat die Vaaldriehoek meer fasiliteite en geleenthede vir mense in rolstoele het om aan sport te kan deelneem. Intussen is hy en sy gesin steeds lief vir visvang en geniet hy ook rekenaarspeletjies. Op die oomblik is Counter-Strike sy gunsteling. “Dit maak my kop stil,” sê hy.
Christiaan hoop om eersdaags weer ‘n vaste werk te hê en sê hy is bereid om enige kantoor- of administratiewe werk te doen. “Niemand is altyd positief nie, maar ek het geleer niks is onmoontlik nie. Jy moet by jou omstandighede aanpas.
Elke mens se omstandighede verskil, maar jy moet die goed kry wat vir jou werk. Stick with it,” is sy raad aan ander wat ook in ‘n rolstoel moet aanpas.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button