NewsNewsSportSport

Krieket-kanonne maak weer keel skoon

SEDIBENG. - Dit gaan ‘n harmansdrup terugkeer wees tot normaal, maar Saterdag, 7 November was alles net beter, soeter, lekkerder en mooier.

Die oorsaak van dié sensoriese bederf is die geleidelike terugkeer van skole- en klubkrieket. Al was dit slegs vriendskaplike wedstryde, het almal die spel met nuwe waardering en ywer aangedurf.

Die Hoërskole se vriendskaplike wedstryde wat deur NWU Vaal aangebied is, het topgehalte krieket opgelewer.
Wat die oggend se T20-kragmetings betref, het Heidelberg Volkies vir Overvaal op sy tuisveld geklop, danksy ‘n spoghondertal deur Joshua (112) wat gehelp het dat Volkies ‘n teiken van 188/6 daargestel het. Overvaal is daarna tot 120/3 beperk.
In Vanderbijlpark het die Hoërskool Transvalia die HTS Sasolburg met 34 lopies geklop. Die Spanners het met ‘n gekombineerde span wat uit spelers van die Sedibeng Hub aangevul is, gespeel.
Valia se top lopievrate was Joggie Malherbe (41) en Rico Fourie (37) wat gesorg het dat Valia ‘n teiken van 165/6 in 20 beurte daargestel het.
Vir die Spanners het Salman Patel (2/19 in 4 beurte) en Muziwakhe Ngwenya (2/28 in 3 beurte) goed gedoen om Valia se kolfwers in toom te hou. Die Sasolburgers het Valia hard laat werk vir die sege met Nyakallo Khoali (45), Muziwakhe Ngwenya (32) en Armand Neetling (19 van 8 balle) wat hand en tand terugbaklei het.
Valia se boulers met Dylan Steinman (2/15 in 4 beurte) en Vian Locke (2/7 in 2 beurte) het die handrem opgetrek en gesorg dat die manne van anderkant die Vaalrivier slegs 131/8 kon aanteken.
aak weer keel skoon
Veilig! Nandus McLean van die Hoërskool Transvalia bereik die kolf
Wat die middag se kragmetings betref, het Volkies die Dokkies in ‘n naelbyter met 11 lopies geklop.
Volkies met Van Zyl (51 van 31 balle) aan die spits, het 145/7 aangeteken. Vir die Meyertonners het Evan Nortje (4/22 in 4 beurte) die manne van Heidelberg voor die penne laat swoeg.
Malan het daarin geslaag om 134 lopies aan te teken, slegs 11 kort van die teiken, danksy goeie boulwerk deur Nathan Labuschagné wat 4/24 platgetrek het.
Gimmies het op sy beurt van die planke af opgestaan om Overvaal te klop.
Overvaal het 154/5 aangeteken met Weyers Fourie (66 van 60 balle) aan die spits.
Francois Matthee (2/21) was Gimmies se top bouler.
Gimmies was vroeg in sy beurt in die knyp op 5/3 na twee beurte, danksy Duan Janse van Rensburg (3/37) en kie se goeie boulwerk. Danksy warrelwind beurte deur Ian Lotz (58 van 59 balle) en JB Jacobs (52* van 42 balle) het Gimmies die teiken met vier paaltjies in die bank verbygesteek. In Vanderbijlpark het Valia harde bene gekou om Driehoek te klop.
Die tuisspan het eerste gekolf en 149/8 aangeteken, danksy knap kolfwerk deur Rico Fourie (45) en Ruben van der Merwe (40).
Ruben het ook 2/10 platgetrek. LC Steyn (29) het die Hoekies se aanslag gelei, maar die besoekers se tenk het op 131/7 leeggeloop.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button