Ons twee is gang af. Voor die kamer steek ons vas. Ek steek my hand vinnig in en druk die skakelaar teen die muur af. Die volgende oomblik hoor ons iets wat soos ‘n perd runnik. “Sit aan die lig,” sê Bessie en por my in die ribbes.
“Doen jy dit. Jy’s die oudste,” protesteer ek dadelik. “Juis daarom moet jy dit doen,” verklaar sy beslis. Vir ‘n tweede keer steek ek my hand in en druk die lig se skakelaar. Die lawaai kom van die hobbelperd wat in die hoek van die kamer langs die bed staan. Dit werk met batterye. Ons staan en kyk hoe die perdjie op en af wip en vrolik runnik, kompleet asof daar ‘n kleuter op sy rug sit. “Gaan sit af die perd,” kry Bessie haar stem terug. “Is jy mal?,” steek ek viervoet vas. “Wil jy nou hê die baba moet wakker word?” speel Bessie haar troefkaart. “Sê vir my ma ek het dapper gesterf,” laat ek bewerig hoor voordat ek die drie tree tot by die hobbelperd gee en die afknoppie druk. Toe gee ek en Bessie albei net twee lang tree tot terug in die kombuis. Het die lig aangelos. Tot vandag toe weet ek nie wie of wat was daar doenig nie.
En dan was daar Ingrid. Sy het in ons koshuis op die PUK gespook. Siestog, tragiese storie soos die meeste spoke maar het. Teen die tyd wat ek op die PUK beland het, was Ingrid al lank ‘n inwoner. Haar nooit self gesien nie. Maar ek en Karlien van Karlien Koshuis het gereeld die eerstejaars totaal verward gehad met Ingrid saam. Ons sou in die gang af drentel. Kom daar ‘n eerstejaar van voor af. “Hallo Juf. Karlien. Hallo Juf. Gerda,” soos dit ‘n goeie doortjie betaam. “Nou hoe moet arme Juf. Ingrid voel?” vra Karlien verontwaardig.
“Ai skuus Ingrid, ons sukkel maar met die eerstejaars en hul maniere,” praat ek met die oop spasie langs my. Eerstejaar staar ons met groot oë aan. “Skuus, hallo Juf. Ingrid,” kry sy dit uit terwyl ons kopskuddend wegloop. Later die dag. Weer ek en Karlien en ons loop dieselfde eerstejaar raak. Sy dink sy is slim. “Middag Juf. Karlien. Middag Juf. Gerda. Middag Juf. Ingrid.”
“Ingrid? Waar is Ingrid?” verbasing lê Karlien se gesig vol. “Gerda, sien jy haar?” Ek skud my kop, Ingrid was nog seergemaak oor eerstejaar haar vanoggend so misgekyk het. Sy is nie hier nie. Ek en Karlien loop. Ons gee ons misnoeë hardop te kenne oor eerstejaars wat nie eers ‘n spook in vrede kan los nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

