NewsNews

Inwoners ontwrig verkeer uit frustrasie oor kragsituasie

VEREENIGING. - Inwoners van Drie Riviere, die wyk wat die meeste geld vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit inbring, het die naweek belangrike ingangspaaie na die buurt versper om ’n boodskap aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit te stuur dat hulle nou keelvol is vir kragonderbrekings.

’n Groep inwoners het Vrydagmiddag om 17:00 by die Dick Fourie-stadion byeengekom waar die protesoptrede op volkseie wyse met gebed geopen is deur Steyn Fourie, ’n leiersfiguur van Vrydag se protesoptog.
Fourie het dit met die Slag van Bloedrivier vergelyk en die Here gevra om met protesgangers te wees. Vir baie mense was dit die eerste keer in hul lewens wat hulle aan so ’n protesoptrede deelgeneem het.
Die situasie waartydens die buurt vir twee weke lank sonder krag gelaat is nadat ’n transformator Sondag, 8 November naby Shoprite ontplof het (en talle ander kabelfoute langs ’n netwerk van kragkabels wat die buurt van elektrisiteit voorsien) het die inwoners genoop om tot protesoptrede oor te gaan.
Drie Riviere, die wyk wat die meeste geld vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit inbring, was vir langer as twee weke sonder krag.
Twee inwoners hou plakkate op tydens ’n tweede protesoptrede wat Saterdagmiddag in Blackwoodstraat gehou is.
Die groep het vanaf die stadion na Houtkopweg beweeg waar hulle die pad naby die brug oor die Kliprivier versper het. Dit het veroorsaak dat verkeer in Blackwoodstraat en Houtkopweg heeltemal tot stilstand gedwing is en het erge verkeersopeenhopings veroorsaak.
Verskeie verontriefde motoriste was woedend en vuiste het baie amper geklap toe ’n kwaai motoris protesgangers gekonfronteer het.
Saterdagaand het ’n groep inwoners weer by die Dick Fourie-stadion byeengekom en na die hoek van Blackwoodstraat en Hawthornestraat vertrek waar hulle ’n elektriese kontrakteur gekonfronteer het en wou weet wanneer die krag sal aankom.
Inwoners wat Vrydagmiddag die pad in Houtkopweg versper het om ‘n boodskap aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit te stuur dat hulle nou keelvol is.
Vragmotors het Vrydagmiddag in Blackwoodstraat opeengehoop toe keelvol inwoners paaie tydens spitsverkeer versper het.
Daarna het hulle Blackwoodstraat toegemaak en weer verkeersopeenhopings veroorsaak.
Hoewel die protesoptrede onder erge kritiek deurgeloop het is daar ander wat meen dat die protesgangers in hul doel geslaag het om boodskap aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit te stuur.
Die naweek se protesoptrede volg skaars ’n paar dae nadat inwoners van Sonlandpark en Falcon Ridge onlangs na die Riverspray-landgoed in Vanderbijlpark opgeruk het en aangedring het om met die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, eerw. Gift Moerane te praat en selfs gedreig het om sy krag af te skakel nadat dié buurte ook vir die soveelste keer sonder krag gelaat is.
Steyn Fourie, leier van die protesoptrede wat Vrydagaand gehou is, spreek inwoners toe.
Dalene Venter, wyksraadslid vir Drie Riviere, het kort voor haar ongeluk verlede week, aan Vaalweekblad gesê dat gebrekkige instandhouding en elektriese infrastruktuur wat nooit uitgebrei is om met ontwikkeling tred te hou nie die hoofoorsake van die situasie waarmee inwoners nou sit.
Daar is gevra dat ’n gehawende 2.7km lange kabel wat krag van Eskom se substasie af na die woonbuurt invoer, dringend vervang word.
Die munisipaliteit het intussen toestemming gegee. Teen Dinsdagoggend, Vaalweekblad se saktyd, was werkers steeds besig om slote te grawe vir die kabel om aangelê te word.
Talle kabelfoute het veroorsaak dat gedeeltes van Drie Riviere steeds sonder krag gebly het.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button