NewsNews

Dit het met The Green Berets begin

VANDERBIJLPARK. – Johan Erasmus en musiek gaan saam soos koffie en beskuit.

Dit het alles met die liedjie, The Ballad of the Green Berets begin. “Ek was drie jaar oud toe koop my ma die seven single. Ek was gek oor die liedjie. Eendag het ek net voor die huisorrel gaan sit en die wysie met my regtherhand begin speel,” onthou Johan.
Daarna het hy gereeld liedjies op gehoor gespeel. Op 8 jaar het hy met formele musiekles begin, maar gou opgehou, want hy het nie van note lees gehou nie. In standerd 6 (Gr. 8) het ‘n buurman, Dawid Marais hom genooi om saam met hom musiek te maak. Dawid was ‘n konsertinaspeler en hy en Johan het saam boeremusiek begin speel.
Johan Erasmus, talentvolle musiekleier van Vaalrivier-gemeente en adjunkhoof van Eureka Skool.Foto: Verskaf
Johan se liefde vir musiek het nog ‘n hupstoot gekry toe hy in standerd 8 lid van die Country Rhythm orkes geword het. Hulle was ‘n groep van vier wat dansmusiek verskaf het by troues en ander funksies. Intussen was hy ook lid van Hoër Volkskool Heidelberg se koor en het gereeld in skool operettes gesing.
Na skool het hy onderwys gaan studeer by Tukkies en dis hier waar sy paaie met Jannie du Toit se Musiek en Liriek Groep gekruis het. Na ‘n suksesvolle toer, is hy ook genooi om ‘n oudisie te doen vir Tuks se bekende a cappella-groep. Die jare van toer en sing saam met dié groep sonder hy uit as hoogtepunte. “Ons het ‘n ou vragmotor gehad met die naam van Job. Die ding se maksimum spoed was 80 km/uur, maar getoer het ons getoer,” lag hy.
Sedertdien het hy hom toegespits op sy gesin en onderwysloopbaan. Johan is adjunkhoof by Eureka Skool in Vereeniging waar sy vrou, Lita-Mari ook onderwys gee. Sang en musiek speel steeds ‘n belangrike rol in sy lewe. In 2004 het hy sy eie CD opgeneem. Daardie jaar het hy ook die rol van die koning vertolk in die musiekblyspel, The King and I wat deur VODS in die Vereeniging Stadskouburg opevoer is. “Ek het die rol baie geniet, maar hulle kon my nie oortuig om al my hare af te skeer nie. Dit was mos nou nie nodig vir my om presies soos Yul Brynner in die film (The King and I, 1956) te lyk nie,” verduidelik hy. “Kan jy jou indink wat die kinders by die skool sou sê?”
Die afgelope 10 jaar is hy musiekleier by Vaalrivier-gemeente waar almal elke jaar uitsien na die Paas- en Kersfeesproduksies. Hierdie jaar se Kersprogram 2020 is ekstra spesiaal want dit bevat hoogtepunte van die laaste dekade se programme. “Ons sien baie uit daarna. Die span oefen al van September af,” vertel hy opgewonde. Enige een is welkom om die dienste om 15:30 of 18:30 by te woon op 6 Desember. Toegang is gratis, maar weens Covid-regulasies moet daar vooraf bespreek word by Alta by 084 402 3022.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button