’n Herrie het losgebars oor ’n foto wat op sosiale media versprei is van ’n kameel wat op die oog af uitgeteer lyk.
Die sirkus was van 18 tot 29 November in Atlasville in Boksburg waar hulle talle vertonings gehou het.
Die Boksburg Dierebeskermingsvereniging (DBV) het verlede Dinsdag, 24 November in ‘n verklaring gesê dat hulle talle klagtes van diereliefhebbers ontvang het oor die toestand van die kamele en derhalwe besluit het om ‘n waarskuwing aan die eienaar van die McLaren Sirkus, David McLaren, te rig.
“Diere verdien nie om soos produkte behandel te word nie. Hulle is “sentient” wesens en verdien om gerespekteer te word vir wie hulle is,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring wat deur die DBV uitgereik is.
Mense het op sosiale media aangedring dat die diere gekonfiskeer word.

In ‘n verklaring wat verlede Dinsdag, 24 November deur die McLaren Sirkus uitgereik is, het die sirkus egter die publiek verseker dat hul kamele perdfris en gesond is.
“Ons is bewus van die foto wat op sosiale media versprei word en is ook bewus van die besware rondom hierdie gedokterde foto’s (die sirkus het die woord “altered” gebruik om die foto te beskryf).
“Ons wil graag die publiek verseker dat hierdie foto nie ‘n ware weerspieëling van enige van ons kamele is nie.
“Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die DBV op 20 November ‘n deeglike en voorafgaande inspeksie op ons perseel uitgevoer het. “Niemand het gedurende hierdie inspeksie of daarna enige besware oor die toestand van ons kamele geopper of enige iets onder ons aandag gebring nie,” lui ’n uittreksel uit die verklaring. “Ons bly soos altyd in kontak met private veeartse om te verseker dat ons uitsonderlike dierewelsyn handhaaf. “Ons geliefde diere is tans ons grootste prioriteit en dit sal altyd so wees. “Ons nooi lede van die publiek uit om ons diere te besoek en self te kom sien hoe hulle behandel word.
“Mense wat die diere wil kom besoek om te sien hoe dit met hulle gaan, word versoek om vir ons ‘n e-pos na karl@mclarencircus.co.za te stuur.”
Sien ook ons opvolgberig oor die McLaren Sirkus se verklaring hier:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

